Excerpt for Lyk Goed - Die Lui Gids vir 'n Beter Lyf by Jan Van Rensburg, available in its entirety at Smashwords

Lyk Goed
Die lui gids vir ’n beter lyf
Deur Jan van Rensburg



Kopiereg JVR 2011

Uitgegee deur JVR by Smashwords


Smashwords-uitgawe Lisensienotas

Hierdie e-boek is gelisensieer vir jou persoonlike gebruik en genot. Hierdie e-boek mag nie herverkoop of weggegee word aan ander mense nie. As jy graag hierdie e-boek wil deel met iemand anders, koop asseblief ’n addisionele kopie vir elke ontvanger daarvan. As jy hierdie e-boek lees en nie daarvoor betaal het nie, of dit nie vir jou alleengebruik gekoop is nie, gaan asseblief terug na Smashwords.com en koop jou eie kopie - dis regtig nie duur nie. Dankie dat jy die harde werk van hierdie outeur respekteer.


Omslagontwerp deur JVR


Ook deur JVR, uitgegee by Smashwords:

Looking Good - The lazy guide to a better body (English Edition)



Copyright JVR 2011

Published by JVR at Smashwords


Smashwords Edition License Notes

This ebook is licensed for your personal enjoyment only. This ebook may not be re-sold or given away to other people. If you would like to share this book with another person, please purchase an additional copy for each recipient. If you’re reading this book and did not purchase it, or it was not purchased for your use only, then please return to Smashwords.com and purchase your own copy - it’s really not expensive. Thank you for respecting the hard work of this author.



*****



KENNISGEWING

Die uitgewer en skrywer het gepoog om so akkuraat en volledig te wees in die daarstelling van hierdie boek, nieteenstaande die feit dat daar geen waarborg of versekering gegee kan word dat die inhoud akkuraat is weens die snelveranderende aard van kennis en inligting, en die Internet nie.

Die uitgewer of skrywer sal nie verantwoordelik wees vir enige verliese of skade van enige aard hoegenaamd gely deur die leser nie, direk of indirek voortspruitend uit die inligting vervat in hierdie boek.

Hierdie boek is nie bedoel as ’n bron van mediese advies nie. Vir mediese advies word alle lesers sterk aangeraai om van die dienste van bevoegde en professioneel gekwalifiseerde persone in die mediese veld gebruik te maak.

Geen waarborge van enige aard word gemaak nie. Die leser aanvaar volle verantwoordelikheid vir die gebruik van die inligting vervat in hierdie boek. Die skrywer behou die reg voor om veranderinge aan te bring sonder kennisgewing. Die uitgewer en skrywer aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid van enige aard namens die leser van hierdie boek nie.



*****



INHOUDSOPGAWE

Proloog


DEEL 1: Die Kennis – Wat jy moet weet

Inleiding tot Deel 1

Hoofstuk 1: Oorleef inligtingoorlading

Hoofstuk 2: Sorteer jou kop uit

Hoofstuk 3: Wat jy moet weet van gewig verloor

Hoofstuk 4: Wat jy moet weet van oefening

Hoofstuk 5: Wat jy moet weet van dieet en voeding


DEEL 2: Die Metode – Hoe om dit te doen

Inleiding tot Deel 2

Hoofstuk 6: Kry jou strategie bymekaar

Hoofstuk 7: Jou eetprogram

Hoofstuk 8: Jou oefenprogram

Hoofstuk 9: Hou jou vinger op die pols


Epiloog

Erkennings

Omtrent die skrywer



*****



PROLOOG

Terug na Inhoudsopgawe

Sukkel jy met jou gewig en liggaamsvorm? Is jy een van daardie ongelukkiges wat maklik gewig aansit, en dan daarna ’n onmoontlike opdraande stryd moet voer om dit weer te verloor? Was dit nog altyd die geval met jou vanaf jou kinderdae, of het daar op ’n sekere stadium in jou lewe iets begin skeefloop, wat met die verloop van jare net al hoe erger geraak het?

’n Baie groot persentasie van mense kan vandag identifiseer met hierdie vrae. Oorgewig en obesiteit het ontaard in ’n wêreldwye epidemie, en word gereken as van die primêre oorsake van voortydige en voorkombare sterftes in meeste Westerse lande. Ontwikkelende lande is nie ver agter nie en is vinnig besig om in te haal, in pas met globalisasie. Suid-Afrika met sy boepens-brigade is beslis geen uitsondering nie.

Daar is egter meer betrokke by oorgewig en ’n onfikse toestand as net die gesondheidsrisiko’s. ’n Oorgewig, ongesonde en uit-vorm lyf kan ’n ernstige impak hê op jou lewenskwaliteit en selfbeeld – en ook op jou interpersoonlike verhoudings met ander. Om goed te lyk is ’n begeerte wat alle mense inherent koester, en waarop die mensdom biljoene elke jaar bestee.

Een van die wrede werklikhede in die stryd vir ’n gesonder, stroombelynde lyf is die totale afwesigheid van enige vorm van regverdigheid. Dit lyk asof sommige mense met omtrent enigiets kan wegkom – hulle kan eet en drink in oordaad en totaal ongesond leef, met min negatiewe gevolge om daarvoor te wys. Terwyl ander hulself maar moet berus in ’n lewe van stryd en opoffering om hulself in ’n aanvaarbare fisiese vorm te kan hou. Of om die stryd gewonne te gee en hulself maar net te laat gaan, en met die kwade gevolge saam te leef.

’n Stadige metabolisme kry dikwels die skuld vir die gesukkel, maar die werklikheid is dat meeste mense nie regtig weet waaroor ’n stadige metabolisme gaan nie, om nie eens te praat van iets daaromtrent doen nie. En dit lyk asof almal dieselfde foute oor en oor maak. As jy al ’n slag of wat deur hierdie ervaring is, sal jy weet waarvan ek praat.

Hulle sê die verskil tussen optimisme en pessimisme is ondervinding. So, welkom by die Klub van die Ontevredenes, die Ontnugterdes, die Gefrustreerdes en die Onsekeres! Wees verseker jy is nie alleen nie. Om die waarheid te sê, jy is in goeie geselskap, waar almal glo dat hul eie probleme die grootste is, en die moeilikste gaan wees om op te los.

Televisie-realiteitsreekse oor leefstylverandering waar deelnemers dit uitbaklei om te sien wie die meeste gewig kan verloor, is op die oomblik besonder gewild. Maar jy hoef slegs na ’n enkele episode van een van hierdie programme te kyk om deeglik tot die besef te kom dat dit waaraan die arme deelnemers blootgestel en onderwerp word, nie speletjies is nie en neerkom op uitmergelende weermag-styl rondjaag, swaarkry en geweldige persoonlike opoffering. Om hierdie ly-of-gly boodskap te hoor as die enigste rêrige pad na sukses, moet ongetwyfeld baie ontmoedigend en neerdrukkend wees vir miljoene oorgewig mense in die wêreld.

Dis hoekom mense die idee van ’n vinnige, maklike oplossing vir gewig- en fiksheidsprobleme so aanloklik vind. Iemand wat iewers ’n deurbraak maak en iets rewolusionêrs ontdek, wat werklik werk. Verkieslik ’n pil van ’n soort, wat die vetjies laat wegsmelt en jou liggaam ferm kry terwyl jy slaap. Maak geen fout nie, die wêreld wemel vir jare al van produkte wat op rewolusionêre sukses aanspraak maak, maar ongelukkig word hierdie kitsoplossings en wonderkure gereeld soos klokslag gediskrediteer en ontmasker as verbygaande foefies – iemand wat ’n vinnige fortuin uit ’n goedgelowige mark maak, net om daarna van die toneel te verdwyn. En partykeer dieselfde bedrogspul onder ’n nuwe naam te laat herrys, en die proses van voor af te herhaal om nóg ryker te word.

Die werklikheid is dat ons almal op die een of ander manier ’n basiese lui streep in ons het, en dis waarop ’n baie gewillige bedryf hul teikens rig. Wie by sy volle positiewe sal doelbewus kies om enigiets op die moeilikste manier denkbaar te probeer doen – op ’n manier wat die meeste harde werk vereis – indien daar alternatiewe bestaan om moeite, tyd en energie te spaar? In hierdie filosofiese sin was luiheid al dikwels die vonk vir vindingrykheid – om beter, meer effektiewe en innoverende metodes te ontwikkel om dinge gedoen te kry.

Tydens my eie soektog na ’n doenbare, draaglike strategie om myself in goeie vorm te probeer hou oor ’n tydperk van baie jare, het ek dit altyd frustrerend gevind om top-sportpresteerders se gewigsverlies- en oefenwysheid te probeer navolg. Doodeenvoudig omdat die meeste van hulle ’n wet vir hulleself skyn te wees, en dieselfde boodskap gepreek het – om jouself omtrent halfdood te oefen. Ek dink die meeste van hulle het nie die vaagste benul van hoe dit is vir die “ander” nie – mense soos ekself – en miskien ook jy – wat nie met die luukse van ’n hoë graad van natuurlike atletiese vermoë toebedeel is nie, of met ’n weerligspoed-metabolisme, of wat ’n baie aktiewe leefstyl volg wat jou in staat stel om soveel te eet as wat jy wil sonder enige reperkussies nie.

Dit was elke keer dieselfde ou holruggeryde storie van voor af. Twee keer per dag in die gimnasium, ’n nimmereindigende gehardloop en fietsry, en deelname aan uithouwedrenne en -wedlope oor naweke. O, en om nie te vergeet nie, aan die ontvangkant van ’n klein fortuin aan borgskappe om hierdie leefstyl vol te hou, dag in en dag uit.

Wel. Dis nou nie juis vergesog om te vermoed dat enigiemand wat so ’n fisies aktiewe leefstyl volg, nie te veel probleme gaan hê om in goeie vorm te bly nie. Maar dis nie werklik ’n baie praktiese oplossing vir nie-professionele, nie-atlete wat nog ’n lewe en loopbaan buite die gimnasium of oefenbaan ook het, en boonop ook nie betaal word om te oefen nie.

Ek was altyd diep binne myself oortuig dat daar ’n ander manier moes wees. ’n Beter, slimmer manier. ’n Manier wat jou liggaamsvorm effektief kan aanspreek en verander, maar met minder swaarkry, sukkel en moeite. My soektog het gestrek oor dekades, en met die verloop van tyd het die stukkies van die legkaart inmekaar begin pas. Totdat die geheelprent vir my duidelik geraak het en ek in staat gestel is om alles saam te snoer in ’n werkbare, praktiese strategie. In hierdie boek wys ek jou hierdie belangrike beginsels om jou lewe en liggaamsvorm ten goede te verander. Met minder moeite en permanente resultate.

Jy sal die slaggate en slagysters sien wat vir jou gestel word deur ’n gewetenlose gewigsverlies- en gesondheidsbedryf wat gereed staan om geld by herhaling van jou te vat – waar alles ontwerp is om jou te weerhou van sukses sodat jy kan terugkom vir meer, en ’n bron van inkomste vir hulle te kan bly, hopelik vir die res van jou lewe.

Jy sal die verwarring sien wat veroorsaak word deur inligtingoorlading en inligtingbesoedeling, en hoe om by al die dwaalspore verby te hou om die werklike kwessies te verstaan. Jy gaan ’n hele paar interessanthede teëkom wat jou uitkyk op gesond leef permanent sal verander. En in die proses die metodes ontdek wat regtig werk, vinniger en beter as enigiets anders.

Hoe kan ek beweer dat die metodes regtig werk?

Die rede vir my selfversekerdheid is omdat ek self ook op ’n stadium een van daardie ongelukkiges was wat gewig kon aansit deur bloot net na kos te kyk. Alhoewel ek op geen stadium van my lewe reusagtig vet was nie, het ek nog altyd heeltemal te veel liggaamsvet met my saamgedra. Ek was nooit ’n begaafde atleet nie, en ek moes altyd heelwat harder werk vir die geringste mate van sportsukses, terwyl ek net jaloers moes toekyk hoe die meer geseëndes by my verbyvlieg sonder veel moeite.

Ek moes altyd ’n redelike hoë vlak van fisiese aktiwiteit handhaaf – meer so as vir die meeste mense – in my pogings om myself in ’n redelike fisiese toestand te kon hou. Maar dit was nie altyd suksesvol nie en ten spyte van gereelde en getroue oefening, was te veel liggaamsvet maar altyd deel van die prentjie vir my. Ek was ’n klassieke voorbeeld van wat beskryf kan word as iemand met ’n stadige metabolisme.

So, wanneer ek daarop aanspraak maak dat die benadering wat ek ontdek het, werk, dan doen ek dit nie net bloot omdat ek dit gesien werk het vir ander nie, maar omdat dit ook vir my gewerk het, waar al my ander pogings gefaal het. En dit werk nog steeds vir my tot op hede, sonder enige terugvalle of probleme sedert ek alles bymekaar kon voeg en inkorporeer in my lewe. Dis al ’n hele klompie jare, en ek dink dat ek teen hierdie tyd met ’n redelike mate van veiligheid my kop kan uitsteek om te sê dat indien dit vir my kon werk, kan dit vir enigiemand werk – ook vir jou.

Die belangrikste aspek van hierdie leefstylbenadering is dat dit nie totale beslag lê op my hele wese en lewe nie, en dis nie moeilik om in stand te hou nie. Alhoewel ek tans in goeie fisiese vorm is, spandeer ek nie die grootste deel van my tyd aan fisiese aktiwiteite nie. Ek het absoluut geen begeerte om maratons te hardloop, Everest uit te klouter of om myself op ’n fiets flenters te trap nie.

Inteendeel, jy sal sien dat alhoewel ek ’n formele, gestruktureerde oefenprogram volg, neem dit verbasend min van my tyd per week in beslag. Ek is nooit meer op dieet nie en ek eet geensins min nie, maar ek word ook nie vetter soos vroeër, voordat ek hierdie leefstylbenadering begin volg het nie.

Die meeste van wat vandag aan ons gepredik word deur die kombinasie van hoofstroom-gesondheidswetenskap en duisende gesondheidsghoeroes en kwaksalwers wêreldwyd, dien slegs om die meeste mense te verwar. En dit bied hulle nie ’n werkbare, praktiese oplossing vir suksesvolle, langtermyn gewigsverlies en verbetering van hul liggaamsvorm nie.

Suksesvolle gewigsverlies en verbetering van jou liggaamsvorm het 2 ewe belangrike komponente:

-- Die eerste is om jou kop uit te sorteer – die dinge in jou sielkundige samestelling wat jou gedrag en gewoontes beïnvloed, en wat lei tot ’n nadelige leefstyl wat jou kan terughou.

-- Die tweede is die navolg van ’n goed-ontwerpte leefstylstrategie, gebaseer op beginsels wat bewese is om te werk, op die lang duur. ’n Strategie wat verwoestende toestande soos ’n stadige metabolisme effektief kan aanspreek, en wat korte mette kan maak van enigiets anders wat regstaan om jou poging te kelder.

Jy kan nie eens begin dink om iets te doen aan die verbetering van jou lyf sonder ’n goeie begrip van die werklike onderliggende beginsels nie. En dit beteken dat jy gewapen sal moet wees met voldoende kennis. Betroubare kennis – nie wensdenkery of ouvroustories nie.

Kennis gee jou die mag. Die mag om dinge te verander. Die mag om slim te wees. Op die ou end is dit waaroor hierdie boek gaan. ’n Nuwe manier van dink – soos ’n lui persoon – om jou liggaamsvorm op ’n intelligente wyse dramaties te verbeter, met die minimum hoeveelheid harde werk, tyd, moeite en swaarkry.

Die boek is verdeel in 2 hoofdele:

-- In Deel 1 gaan dit oor die kennis. Dit wat jy moet weet en verstaan van die gemene delers en fundamentele beginsels van gewigsverlies en liggaamsvorm verbetering.

-- In Deel 2 gaan dit oor die metode – die “hoe om te”. Hier pas ons die beginsels en kennis toe vir die skepping van ’n praktiese, werkbare leefstylstrategie vir jou – die detail van die benadering en programme wat jy kan volg om gewig te verloor en jou lyf te herskep. Vinnig, met langtermyn volhoubaarheid, en met minder moeite. Op die slim manier, nie die harde manier nie.

Indien jy maar net nog ’n dieet-en-oefen boek verwag, is hierdie een dit baie beslis nie. Dit is ook nie ’n boek vir mense wat nie gewillig is om hul gedagtes so nou en dan buite die spreekwoordelike boks te laat dwaal nie. In plaas daarvan, berei jouself voor om na jou eie situasie te kyk met baie meer insig, en met baie minder blinde vertroue. Wees voorbereid om dinge te sien vir wat hulle werklik is, in plaas van wat slim bemarkingspropaganda jou graag wil laat glo. En wees voorbereid om te midde van al die verwarring wat bestaan, die slim en minder moeitevolle manier te ontdek om ontslae te raak van oortollige liggaamsvet, en jou lyf te herskep na die een wat jy nog altyd wou gehad het – permanent.

Alhoewel die boek geskryf is vanuit ’n manlike perspektief, is dit nie slegs vir ’n manlike leserskorps bedoel nie. Daar bestaan baiemaal ’n persepsie dat die praktiese aspekte van gewig verloor en liggaamsvorm-verbetering verskillende benaderings vir mans en vroue vereis, maar hierdie persepsie is verkeerd. Die leefstylbeginsels wat geld vir mans is net so toepaslik op die vroulike geslag, ten spyte van die verskille in fisiologiese samestelling.

Soos in die geval van meeste publikasies, is die sieninge soos verwoord en gereflekteer in hierdie boek dié van die skrywer, gebaseer op die evaluering van ’n magdom gesondheid- en fiksheidinligting vanuit tallose bronne regoor die mediaspektrum. Dit word gekombineer met die eksperimentele resultate en persoonlike ondervindings beleef tydens ’n gedrewe ondersoek na hierdie fassinerende onderwerp oor ’n tydperk van 30 jaar.



*****



DEEL 1

Die Kennis – Wat jy moet weet

Terug na Inhoudsopgawe



"Dit is onwys om te seker te wees van jou eie wysheid. Dit is goed om daaraan herinner te word dat die sterkstes kan verswak en die slimstes kan fouteer."

– Mahatma Gandhi –





"Jy kan vir jouself dink – of anders moet ander mense namens jou dink en daardie mag van jou wegneem, jou natuurlike keuses verkrag en dissiplineer, en jou onderwerp en steriliseer."

– F Scott Fitzgerald –





"Jy kan nie beginsels uitleef wat jy nie kan verstaan nie."

– Stephen R Covey –





"Kry jou feite eers agtermekaar, en daarna kan jy hulle verdraai net soveel as wat jy lus het."

– Mark Twain –



*****



INLEIDING TOT DEEL 1

Terug na Inhoudsopgawe

Daar is ’n goeie rede waarom gesegdes en spreekwoorde so populêr is. En dit is omdat die meeste van hulle elemente van waarheid bevat – dinge wat ons op ’n dieper vlak glo of vermoed. Wanneer ’n gesegde vir ons instinktief waar klink, knik almal die koppe en kan ons dadelik daarmee assosieer. Baiemaal dien so iets om ’n bepaalde standpunt wat ons het, verder te versterk. Die werklike waarde van spreekwoorde en gesegdes lê egter daarin dat dit ons ’n verskeidenheid van perspektiewe en sienswyses bied van omtrent enige aspek van die lewe rondom ons.

Uiteraard, met al die verskillende sienswyses vind mens dikwels dat sommige gesegdes en spreekwoorde in duidelike konflik kan staan teenoor mekaar, wat ons heeltyd daaraan moet herinner dat nie alle mense dieselfde dink oor alles nie. En dit is die heel eerste baie belangrike reël om altyd in gedagte te hou wanneer jy navorsing doen oor enigiets, en wanneer jy probeer om jou kennis te verbreed. Daar is gewoonlik meer as een manier waarop mens na die meeste dinge kan kyk.

Die vier gesegdes op die vorige bladsy is ’n baie goeie voorbeeld en illustreer vier uiters belangrike aspekte van die proses van inligting- en kennisversameling. Eerstens herinner Gandhi ons daaraan dat ons nie altyd heeltemal so seker kan wees van ons eie kennis en wysheid nie. Een mens se waarheid is dikwels ’n ander se leuen, en net wanneer ons dink dat ons alles weet en in plek het, gebeur dit baie dat ons skielik gekonfronteer kan word met teenstrydighede of nuwe inligting wat alles onderstebo kan keer.

Tweedens sê F Scott Fitzgerald sonder om doekies om te draai, dat jy in beheer moet staan van jou eie lewe. Indien jy toelaat dat ander mense namens jou dink en jou lewe dikteer, dan het jy die bepaling van jou lotsbestemming afgeteken en oorgegee aan ander wat nie noodwendig jou beste belange op die hart dra nie. Ons moet baie meer vir onsself dink, en ons eie breinkrag tot ons eie voordeel aanwend.

Derdens onderstreep Stephen Covey die feit dat indien jy jou lewe volgens sekere beginsels wil inrig, dan moet jy weet waaroor daardie beginsels gaan. Indien jy nie die kwessies verstaan waarmee jy te doen kry nie – as jy bloot net ’n resep blindweg volg sonder enige ondersteunende kennis – gaan jy dit bitter moeilik vind om enduit by daardie beginsels te kan bly. Veral wanneer dinge skeefloop en jy geen idee het van waar om te begin soek vir ’n oplossing nie.

Laastens herinner die bekende tong-in-die-kies gesegde van Mark Twain ons daaraan dat die lyn tussen feit en fantasie baiemaal vaag kan wees, afhangend van hoe entoesiasties mense hul eie interpretasies kan vervleg met die kennis wat hulle versamel. Op die gebied van gesondheid, gewigsverlies en fiksheid vind mens op ’n gereelde grondslag dat feite verdraai word om iemand se eie belang of lewensfilosofie te pas. Jy sal agterkom dat die hele gesondheidsbedryf deurspek is met teenstrydighede, wisselende opinies van die “kundiges”, die volharding van uitgediende idees en – om dit by die naam te noem – ’n hele spul suiwer, onvervalsde boereverneukery. Daar is ’n hele spul kennis ter sprake wanneer jy die besluit neem om veranderings te maak aan jou voorkoms en die manier waarop jy leef, en die fokus van die volgende hoofstukke is om die belangrike sake uit te lig en te verduidelik.

In Hoofstuk 1 begin ons deur te kyk na die kwessie van inligtingoorlading en inligtingbesoedeling, en die noodsaaklikheid vir jou om die genadelose aanslag van ’n meedoënlose gesondheids- en gewigsverliesbedryf te trotseer en te oorleef. ’n Bedryf wat grootliks daarop uit is om soveel as moontlik uit jou beursie te kry, sonder om jou veel in ruil daarvoor te gee. Hier kry jy ’n kykie na sommige van die slaggate en slagysters, en die vele geleenthede om op ’n dwaalspoor gelei te word as jy nie oppas nie.

In Hoofstuk 2 kyk ons na die kop-kwessies wat betrokke is wanneer jy leefstyl-veranderinge maak ter wille van jou gesondheid en voorkoms. Geen leefstylplan kan werklik volhoubaar suksesvol wees sonder die nodige motivering om dit enduit deur te sien nie. Hierdie hoofstuk neem jou deur die stappe wat nodig is om volhoubare motivering te kweek en in stand te hou. Ons kyk ook na die mag van jou leefstyl, en hoe jou fisiese vorm en voorkoms dikwels bepalend kan wees vir die pad wat jou lewe neem. Jy sal sien hoe jou leefstyl en voorkoms meestal die vensters is waardeur ander na jou kyk en jou ervaar, en waarde-oordele oor jou uitspreek.

Hoofstuk 3 handel oor die werklike kwessies en beginsels van gewigsverlies. Ons grawe in konsepte rond soos energiebalans en jou metaboliese tempo, en hoe dit ’n reusagtige struikelblok vir sommige mense kan wees. Ons kyk ook na mediese toestande, diëte en ander kwessies wat gewigsverlies beïnvloed.

Hoofstuk 4 gaan oor oefening en fiksheid. Ons kyk na die verskillende tipes oefening, die mites van oefening en wys jou hoe jy kan wegkom met die maksimum voordele vir die minste tyd gespandeer aan oefen.

Hoofstuk 5 gaan oor voeding en jou dieet, en die werklike kwessies ter sprake wanneer jy probeer om jou gesondheid en liggaamsvorm te verbeter met wat en hoe jy eet. Daar is heelwat omstrede sake wanneer dit kom by voeding en dieet, en jy kan verwag om na dese baie meer insig te hê in ’n hele aantal huidige vraagstukke rondom ons eetgewoontes.

In sy geheel gesien, gee Deel 1 van die boek jou ’n realistiese oorsig van die onderliggende kennis wat jy benodig om gewig te verloor en jou liggaamsvorm te verander, deur te fokus op daardie dinge wat werklik werk, wat die proses gaan vergemaklik en die moeite gaan verminder.



*****



HOOFSTUK 1

Oorleef Inligtingoorlading

Terug na Inhoudsopgawe


"Wees versigtig wanneer jy gesondheidsboeke lees. Jy kan dalk doodgaan van ’n drukfout."

– Mark Twain –


Hoeveel keer het jy iets gelees, gesien of gehoor oor gesondheid, dieet, oefen of leefstyl net gedurende die afgelope week? Bes moontlik meer as net een keer. Om ’n gesonder leefstyl te volg, het ’n geweldige belangrike kwessie geword gedurende die afgelope paar dekades, en alle verwagtings is dat dit verder gaan toeneem in die toekoms.

Die wye publisiteit wat gegee word aan die gesondheidsrisiko’s verbonde aan oorgewig en obesiteit, ’n onaktiewe leefstyl en ander faktore soos rook en HIV/VIGS, veroorsaak dat mense toenemend bekommerd raak oor hul vooruitsigte op ’n lang lewe. Die voortydige dood en ineenstorting van die gesondheid van ekonomies-aktiewe mense in hul fleur, is ’n bron van groot kommer vir alle lande. En, nodeloos om te noem, is die jaarlikse kostes hieraan verbonde niks minder as katastrofies nie.

Soos mens kon verwag, het hierdie gesondheidskwessies ook die geleentheid geskep vir besigheid, en vir ernstige geldmaak deur verskaffers van produkte en dienste in hierdie vinnig-groeiende mark. Elke Jan Rap en sy maat het gevolglik baie vinnig op hierdie geldwa gespring, en meer van hulle sluit daagliks aan. Die gevolg is dat die media vandag oorspoel word met leefstyl- en gesondheidsinligting, en die gesondheidsbedryf kollektief een van die grootste verskaffers van inligting geword het – in boeke, tydskrifte, op die radio, televisie en ook die Internet.

Die tong-in-die-kies opmerking deur Mark Twain om versigtig te wees wanneer jy gesondheidsboeke lees, is ongelukkig baie waar. Ons word deesdae gebombardeer met ’n wye verskeidenheid van dikwels teenstrydige inligting wanneer dit kom by enigiets wat te doen het met ons gesondheid en leefstyl. Hoe weet ons wanneer ons te make het met betroubare en geldige inligting, en nie met propagandistiese opruiery wat slegs daarop gemik is om iemand se geldsakke te vul nie?

In hierdie hoofstuk gaan ons kyk na waar die inligting in hierdie boek vandaan kom, hoe ek te werk gegaan het om dit bymekaar te kry, en ’n bietjie agtergrond oor ’n paar van die onderliggende beginsels wat ek moes toepas toe ek moes grawe deur massas inligting. Inligtingoorlading is ’n baie werklike bedreiging, en om daardeur verswelg te word is iets wat baie maklik met enigiemand kan gebeur. Hoe hanteer mens dit?


Die 80/20-reël

Die 80/20-reël het deesdae ’n baie bekende gonswoord geword. Dit staan ook bekend as die Pareto-beginsel, oftewel die “wet van die onontbeerlike minderheid”. Dit gaan oor die fokus op 20% van dinge wat gedoen moet word om 80% van die resultate te lewer, of dat 80% van ’n besigheid se inkomste gewoonlik van 20% van sy kliënte kom, of dat 80% van enigiets gewoonlik onbruikbaar is en slegs 20% bruikbaar, ensovoorts.

Toe ek 30 jaar gelede begin het met my soektog na ’n bevredigende leefstyl-oplossing vir myself, was ek gelukkig dat my formele universiteitsopleiding as ingenieur my reeds op ’n vroeë stadium in my lewe blootgestel het aan die 80/20-reël sowel as Murphy se Wet. Hierdie is twee baie belangrike reëls om in ag te neem wanneer mens enigiets wil doen of ondersoek.

Die 80/20-reël is die dryfkrag agter dít waaroor hierdie boek gaan – om daardie enkele belangrike dinge te identifiseer waarop ek moes fokus, wat my in staat sou stel om ’n stadige metabolisme aan te spreek, wat my sou help om gewig te verloor en die vet af te hou, en wat my in ’n goeie fisiese vorm sou kon hou. Suksesvolle toepassing van die 80/20-reël beteken dat mens by al die minder belangrike en onnodige dinge verbyhou, en uitkom by die werklike kwessies wat die grootste impak gaan hê, en die beste resultate sal lewer.

Murphy se Wet, aan die ander kant, was alomteenwoordig in my agterkop want ek het ook geleer dat die potensiaal vir enigiets om verkeerd te loop, altyd daar is – en mens moet altyd voorsiening maak vir onbedoelde gevolge en dinge wat nie altyd verloop volgens beplanning nie.


Inligtingverwysings in hierdie boek

Die inligting vervat in hierdie boek kom van ’n wye verskeidenheid bronne, bymekaargemaak oor ’n periode van 3 dekades – meeste waarvan vandag op die Internet beskikbaar is. Mens kan jouself indink dat nogal heelwat gebeur het op die gebied van gesondheid en fiksheid gedurende die afgelope 30 jaar, en die groei en akkumulasie van inligting was dienooreenkomstig geweldig.

Om geloofwaardigheid aan enige inligting te gee, veral wanneer dit afwyk van hoofstroomdenke, is die beste manier om na die bronne van die inligting te verwys vir verdere opvolg deur die leser. En natuurlik ook die beste manier om jouself te vrywaar en die blaam te ontduik indien die inligting wat jy aanbied tot nadeel van iemand was en hulle ’n sondebok soek vir ’n skadevergoedingseis. Wanneer mens interessante of verdagte inligting teëkom, gee verwysings jou die geleentheid om self in meer diepte na die saak te kyk, en om jou eie besluite te maak oor die geldigheid al dan nie, van die inligting.

Die ongelukkige werklikheid is egter dat in die verlede, baie min mense die moeite gedoen het om die verwysings op te volg wat met groot moeite deur skrywers en navorsers in hul boeke en dokumente daargestel word, bloot omdat dit net te veel moeite was. Om verwysings op te volg, het gewoonlik beteken dat jy die inligting in boeke moes gaan soek by ’n akademiese biblioteek, en pynlik deur ’n lys moes werk om te sien wat aangaan. Die blote feit dat verwysings deur die outeur gegee is, was – en is nog steeds – op sigself vir baie mense ’n aanduiding dat hulle te doen het met bona fide betroubare inligting. Wat natuurlik ’n baie riskante aanname kan wees.

Die Internet het egter alles verander. As enigiemand vandag iets wil nagaan of verifieer, kan hulle, en sal hulle meestal, dit op die Internet doen. Wat ek nie in hierdie boek wou doen nie, was om dit so vol verwysings en skakels te prop dat dit ’n negatiewe impak op die leesbaarheid daarvan sou hê, en jou leeservaring op die ou end bederf. Die beste manier vir jou om enige inligting op te volg en te verifieer, is om die onderwerp onder bespreking as sleutelwoord of soekterm te gebruik, en op die Internet daarna te kyk. Jy sal opmerk dat ek by meeste omstrede sake ’n voorbeeld of twee van toepaslike soekterme gee vir verdere opvolg op die Internet. Gegewe die oorweldigende Engelse aard van die Internet, gee ek alle voorbeelde van soekterme in Engels.

Ek wil jou regtig aanmoedig om die verwysings op die Internet op te volg as jy onseker is oor enigiets. Die groot probleem wat jy gaan teëkom sal egter dieselfde een wees as waarmee ek te doene gekry het toe ek die Internet gebruik het om al die inligting en my feite reg te kry, tydens die aanmekaarsit van die hoofstukke van hierdie boek. En dit was hoe om inligtingoorlading te hanteer.

Dit is baie belangrik dat ons hierdie kwessie bespreek voordat ons by die detail van die inligting en kennis in die volgende hoofstukke uitkom. Dit wys nie net hoe ek te werk gegaan het om die inligting bymekaar te kry nie, maar wys jou ook waarvoor om op te pas wanneer jy self sekere kwessies wat jy in hierdie boek teëkom, verder opvolg op die Internet. Die belangrikste is egter om tot die besef te kom dat met die meeste inligting oor gesondheid en leefstyl, ons te make het met opinies eerder as feite, en dat dit soms bitter moeilik is om tussen die twee te onderskei.


Inligtingoorlading op die Internet

Om na inligting op die Internet te soek het deesdae baie maklik geword. Jy gaan na die soekenjin van jou keuse (Google, Yahoo!, AOL, ens) en jy tik jou soekterm of –woord in. Sodra jy die soekknoppie kliek, skeur die spreekwoordelike voorhangsel van die kuberruimte oop en jou navraag word in ’n oogwenk beantwoord.

Maar is dit rêrig so eenvoudig?

Wanneer mens enige soektog uitvoer op die Internet, is daar twee dinge wat jy spesifiek wil hê – bruikbare en geldige inhoud. Met bruikbare inhoud bedoel ek nie bloot ’n webblad wat swerm van geborgde skakels, advertensies en indrukwekkende grafika nie – waar iemand iets aan jou probeer verkoop eerder as om inligting aan jou te verskaf nie. Nee, bruikbare inhoud sal gewoonlik ’n dokument of teksbladsy wees waarvan die inhoud baie spesifiek gefokus is op die keuse van jou soekterm of soekwoord. En hopelik genoeg inligting oordra vir jou om te bestudeer en jou kennis te verbreed.

Maar bruikbare inhoud alleen is nie goed genoeg nie. Die inligting moet ook geldig wees. Hiermee bedoel ek dat die inligting gebalanseerd sal wees, dat dit die werklike kwessies sal aanspreek, dat dit hopelik behoorlik nagevors met genoeg kruisverwysings sal wees – in kort, dat die inhoud die realiteit van die situasie sal reflekteer. En dis net hier waar al jou waarskuwingsligte behoort te begin flikker, en waar alles in jou gesig kan ontplof – en jou soektog op ’n verkeerde pad kan beland en jou kennisbasis besoedel word. Wanneer die inligting wat jy versamel op wanvoorstellings eerder as feite gebaseer is, kry jy te doen met vals inligting, ook genoem misinformasie.

Indien ons kyk na die verhouding tussen gemors en goeie inligting op die Internet, sal jy vind dat 80/20 optimisties is, om dit baie sagkens te stel. Wanneer jy na enigiets soek op die Internet kan jy seker wees dat jy heelwat meer gaan kry as wat jy benodig of waarvoor jy gevra het, in die bestek van ’n oogwink. Maar jy kan ook net so seker wees dat die meeste van die (gewoonlik miljoene) soekresultate eintlik maar gemors gaan wees in soverre dit jou spesifieke soekterm betref. Inligtingoorlading in aksie.

Jy kry letterlik duisende herhalings op verskillende webwerwe van presies dieselfde goed. Honderde verwysings-webblaaie sonder enige inhoud, wat jou net rondfoeter van die een webblad na die volgende, sonder om werklik aan jou antwoorde te verskaf. En dan ook my persoonlike gunsteling – ’n soekresultaat wat lyk of dit die antwoord vir jou het presies volgens jou soekterm, wat dan blyk net ’n webwerf te wees wat wil hê dat jy die antwoord aan hulle moet verskaf, sodat hulle enige nonsens wat jy hulle vertel, verder kan versprei. Net om dinge nog meer interessant te maak, kry jy ook ’n spul advertensies en eindelose geborgde skakels, oopspring-vensters (“popup windows”) en totaal irrelevante goed tussenin, selfs ’n pornografiese webwerf of twee wat insluip.

Ek onthou ’n paar jaar gelede het ek gelees van iemand wat na inligting gesoek het oor waterski-toerusting op die Internet, en die fout gemaak het om die soekterm “water sports” in een van die soekenjins te gebruik. Stel jou sy verbasing voor om skielik toegegooi te word met grafiese detail van vreemde fetisjes en kinky seks, van enema’s en kolon-uitspoelingstoerusting wat gebruik word tydens sado-masochistiese en speel-slawerny seksuele rituele. O, en ook sommer ’n hele string oopspring-vensters met leerbeklede, dreigende jong skoonhede wat hom oornooi vir ’n onvergeetlike sessie van verskeie vorms van virtuele lyfstraf, alles net ’n muiskliek ver. En al wat hy wou gehad het was ’n bietjie meer inligting omtrent ’n waterski.

In ieder geval, terug na ons Internet-soektog, en kom ons veronderstel ons was gelukkig genoeg om ’n ondubbelsinnige soekterm te gebruik, en dat dit nie verkeerd deur die soekenjin geïnterpreteer is nie. Die soekresultate word gewoonlik gelys in ’n volgorde van relevansie soos bepaal deur die soekenjin se posisionering van webwerwe volgens daardie soekterm, en die meeste mense kyk tipies slegs na die eerste paar bladsye van soekresultate. Om die waarheid te sê, baie mense kyk nie verder as die eerste bladsy nie.

As mens op hierdie stadium al die nuttelose, af-van-teiken en herhalings van resultate kon verwyder uit die lys (wat gewoonlik miljoene is vir die meeste soekterme), is dit nie te konserwatief om te voorspel dat jy gelukkig sou wees indien meer as 1% wat spesifiek is volgens jou soekterm, gaan oorbly nie. Vir alle praktiese doeleindes kan die 80/20-reël, in soverre dit die Internet betref, herdoop word na die 99/1-reël. Gegewe my eie ervaring en ondervinding oor ’n tydperk van baie jare, is my persoonlike gevoel dat selfs 99/1 bes moontlik vleiend is.

Dit is waarvan ons praat wanneer ons die term inligtingoorlading gebruik. Dit gaan nie net oor die massas inligting beskikbaar nie, maar ook die massas inligting waarmee jy begrawe word wat nie spesifiek gerig is op die soekterm wat jy gebruik het nie, en dan ook nog die misinformasie, wanvoorstellings en ander gemors wat daarmee saamkom.

Alhoewel daar baie dinge is wat die aandag kan aflei, is dit oor die algemeen nie te moeilik om bruikbare inhoud op die Internet op te spoor nie – maar dis net die eerste stap van jou missie. Nou kom ons by verreweg die mees interessante deel. Kom ons veronderstel jy was in staat om ’n behoorlike lys van webwerwe bymekaar te kon kry wat spesifiek van toepassing is op jou soekterm, en jy begin deur hul inhoud blaai. Jy kry die antwoorde en detail volgens... wie? Volgens die webwerf wat jy gekies het uit die lys, natuurlik. Indien jy nie enige voorkennis van die onderwerp het nie, is dit jou eerste blootstelling aan sulke inligting. Die waarheid volgens Webwerf A.

Dan kan jy (en jy behoort eintlik) na van die ander soekresultate ook te kyk. Miskien het webwerwe B en C verskillende benaderings tot die kwessie. Tweede en derde opinies, soos wat mens gaan soek wanneer jy nie tevrede is met een dokter se diagnose nie. Wanneer ons later spesifieke gesondheids- en mediese sake bespreek, sal ons weer hierna kyk – die implikasies van verskillende standpunte en interpretasies van wetenskaplike navorsing is soms uiters dubbelsinnig en verwarrend.

Maar hoekom so baie gemors en oordaad op die Internet?

Die Internet gee aan almal lees- en skryfvermoë. En op die Internet kry elkeen ’n gelyke geleentheid om sy inligting of produkte te smous. ’n Webwerf is ’n webwerf, maak nie saak of dit bedryf word deur ’n betroubare besigheid of ’n twyfelagtige skelm nie. In die meeste gevalle is dit baie moeilik om op sigwaarde tussen hulle te kan onderskei. Jy sal slegs weet indien jy binne-inligting omtrent die webwerf-eienaars of besigheid het, wat meestal nie op die webwerf self beskikbaar is nie. En met die Internet wat steeds teen ’n duiselingwekkende tempo groei, gaan dinge ook nie juis veel verbeter in die nabye toekoms nie. Met die voorkoms van inligtingoorlading word almal gedwing om meer skepties te wees oor enigiets wat ons hoor, sien en lees. Is dit feit of interpretasie? Wie se interpretasie?

Ek het ’n paar jaar gelede ’n artikel gelees oor hoe die Westerse leefstyl ’n negatiewe impak gehad het op die algemene gesondheid van voorheen-geïsoleerde stamgemeenskappe van natuurlike woudgebiede. In hierdie geval was hulle uitgedryf uit hul natuurlike habitat deur boerdery- en stedelike ontwikkeling, en was heeltemal ontwortel en in ’n nuwe situasie gedompel. Geen jagtogte na kos meer nie, deel van ’n regerings-hervestigingsplan en “opheffingsprogram”, met die Westerse leefstyl as enigste alternatief.

In ooreenstemming met soortgelyke navorsingstudies elders, het die navorsers van hierdie gevallestudie ’n patroon van verslegtende gesondheid en ’n toename in die voorkoms van oorgewig by die gemeenskap begin opmerk, nie te lank nadat hulle verskuif is nie. Die grootste gedeelte van die bevolking was heel gesond en in ’n goeie fisiese toestand aan die begin, maar in ’n relatief kort periode het oorgewig beduidend toegeneem, en daarmee tesame al die risikofaktore en gesondheidsprobleme geassosieer met oorgewig elders in die wêreld. Om nie te praat van die rampspoedige impak op hul kulturele erfenis en maatskaplike orde nie.

Sulke navorsingsbevindings gee ons heelwat om oor te dink wanneer dit kom by hoe ons veronderstel is om te leef en in goeie gesondheid te bly. Daar is baie om te leer uit situasies soos hierdie wat mens kan toepas tot voordeel van almal wat sukkel met oorgewig en obesiteit. Die vraag is egter altyd: Hoe betroubaar is die bevindings van hierdie navorsingstudies? In hierdie spesifieke geval, hoe weet ons dat die navorsingsprogram behoorlik uitgevoer is? Hoe kan ons seker wees dat ons nie met misinformasie te doen het nie?

Dit is duidelik dat die belangrikste grondslag vir enige navorsingstudie sal wees dat dit só gedoen sal word dat almal die uitkoms daarvan sal kan vertrou. En dat almal sal weet dat alles gedoen is op ’n onpartydige manier, deur mense wie slegs geïnteresseerd was in die feite van die saak sonder enige gevestigde belang by ’n spesifieke uitkoms. Die enigste aanvaarbare manier om hierdie doel te verwesenlik, is om al die reëls van behoorlike wetenskaplike navorsing te volg.


Wetenskaplike navorsing

Ek glo in wetenskaplike navorsing. My eie professie – ingenieurswese – is diep gewortel in harde wetenskap. Wetenskaplike navorsing vereis die navolging van sekere reëls en protokolle wanneer dit kom by die terme en raamwerk van enige navorsing wat onderneem word. Dit sluit in ’n duidelike definisie van dit wat jy wil navors, die data en inligting wat gebruik word en hoe dit ingesamel gaan word, die metodes vir analise en ’n hele spul ander goed waarmee ek jou nie wil verveel nie. Die belangrikste is egter dat daar gestreef word na ’n feitelike uitkoms, vry van enige onbehoorlike beïnvloeding na enige spesifieke kant toe.

In kort, om wetenskaplike navorsing behoorlik te doen is gewoonlik nie iets wat gejaag kan word nie, dis gewoonlik nie goedkoop nie maar hopelik is dit die moeite werd op die ou end. Want indien alles volgens plan verloop, kan baie mense daaruit voordeel trek, en almal kan dit vertrou, want dan is dit op ’n onpartydige wyse wetenskaplik bewys.

Dit mag in teorie alles goed en wel klink, niemand kan daaroor stry nie. Maar ongelukkig kan praktiese oorwegings dinge beduiwel en die goedbedoelde teorie begin wegknaag, soos so dikwels gebeur. Hier is een voorbeeld.

Wanneer mens navorsing doen, is een van die sleutelkwessies die aannames wat die navorsers maak gebaseer op vorige navorsingsresultate, en die insluiting daarvan in die nuwe navorsing. Niemand het lus (of nodig) om elke keer die wiel te herontwerp wanneer iets nuuts ondersoek of nagevors word nie, en dit maak sin om soveel as moontlik gebruik te maak van bestaande navorsing alreeds gedoen, in enige nuwe navorsingsprojek. In baie gevalle is dit byvoorbeeld glad nie nodig om enige nuwe inligting te versamel nie, bloot omdat daar reeds genoeg toepaslike inligting uit ander studies beskikbaar is.

Ons bou ons kennis soos bakstene in ’n muur. Sekere navorsingsresultate word die boustene vir ander navorsing, of verfynde studies. En die resultate van hierdie studies kan weer aangewend word vir verdere navorsing. Ons spaar geld, ons spaar tyd, en hopelik kan ons kennis vinniger verbreed en toeneem as wat anders die geval sou wees.

Maar wat gebeur as daar ’n swak steen of twee in die muur ingebou word? Wat gebeur as die destydse gebrek aan toepaslike tegnologie of enige ander probleem bygedra het daartoe dat sommige van ons basiese, algemeen aanvaarde aannames gebaseer op vorige navorsing, verkeerd is? En ons gebruik hierdie verkeerde aannames in toekomstige navorsingsprojekte? Jy hoef nie heldersiende te wees om te weet dat as so iets gebeur, is jy geskaakmat. In ’n ergste-geval scenario kan die geldigheid van die hele kennismuur ondermyn word en inmekaarstort, soos ’n kaartehuis. Daar is geweldig baie interafhanklikheid van inligting, veral op die gebied van wetenskaplike navorsing oor gesondheid, en dit verteenwoordig in ’n sekere sin ’n reële swakheid in die stelsel.

Dit is juis hierdie inherente swakheid wat alles kan opfoeter en op sy dak keer, en resultate onbetroubaar maak bloot omdat iemand iewers iets vergeet het, of verkeerde aannames gemaak het, of gesteun het op vorige navorsing wat op dun ys staan. Dit is hoe wispelturig wetenskaplike navorsing meestal is.

Die belangrike punt wat ek wil maak is dat selfs harde wetenskaplike navorsing nooit heeltemal immuun teen foute kan wees nie, ongeag die wigte en teenwigte van die proses, en hoe gesofistikeerd ookal die navorsingsmanifes en protokolle. Weglatings, foutjies en foutiewe aannames is alomteenwoordig, sommige glip by die veiligheidsnette verby, resultate word beduiwel, gevaarlike medikasies word goedgekeur en mense kan doodgaan as gevolg daarvan. En baiemaal net omdat iemand iewers net iets kleins gemis het. Dit is ongelukkig hoe ons leer en kennis versamel – deur foute te maak.

Die feit dat die geskeduleerde medisyne Vioxx behoorlik nagevors en wetenskaplik getoets en geverifieer is volgens al die aanvaarde beginsels van navorsing, is ongelukkig nie veel van ’n troos vir diegene wat die slagoffer van ’n hartaanval of beroerte kon wees tydens die gebruik daarvan nie, soos voorgeskryf deur hul betroubare dokter. Die farmaseutiese vervaardiger Merck het die produk vrywillig van die mark onttrek gedurende 2004, ongelukkig nie voordat daar wydverspreide aantygings was dat verskeie pasiënte gely en gesterf het, na bewering as gevolg van die gebruik van die medikasie nie.

Wat leer ons hieruit?

Die belangrikste ding om te onthou is dat die verifiëring van enigiets, onderhewig is aan moontlike foute. Jy moet altyd ruimte laat hiervoor, en die moontlikheid dat toekomstige ontdekkings sekere van ons huidige aannames en kennis ongeldig kan maak of beïnvloed.

Slegs wanneer alles wat daar te wete is oor enige onderwerp bekend en bewese is, sal mens volle vertroue kan hê in toegepaste navorsing wat daarop gebaseer is. In die geval van gesondheid en enigiets te make met die mediese wêreld, is ek bevrees dat ons nog ’n lang pad voor ons het. Natuurlik raak ons beter daarmee, en hopelik sal ons eendag gevorder het tot by die punt waar daar baie meer sekerheid en duidelikheid sal wees. Maar op die oomblik is dit nog steeds ’n mynveld daarbuite ten spyte van die dramatiese vooruitgang wat die mens beleef het sedert die Industriële Rewolusie.

Ná alles wat ek hier kwytgeraak het, mag jy dalk dink dat ek ’n diep onderliggende wantroue in wetenskaplike navorsing het, ten spyte van enige geluide tot die teendeel vroeër. Wel, ek het sekerlik nie enige wantroue in die beginsels van wetenskaplike navorsing nie en as ek enige keuse sou hê, sal ek altyd die wetenskaplike opsie eerste kies.

Hoekom? Omdat die metodes, wigte en teenwigte die beste is wat ons op die oomblik het. Daar is nie regtig ’n aanvaarbare alternatief nie, en al wat mens kan doen is om toe te sien dat werkswyses verbeter, en dat daar uit foute geleer word. Moet dit nooit vergeet nie – alhoewel wetenskaplike navorsing die beste is wat ons het, is dit nie volmaak nie. En soms moet mens die geldigheid van selfs basiese en algemeen aanvaarde goed bevraagteken, veral wanneer aansprake en praktiese ervaring daarvan nie klop nie.

Nou kom ons by die mees kritieke aspek van navorsing, en hierdie is op die oomblik ’n reuse kwessie wêreldwyd. Ek het voorheen genoem dat navorsing gewoonlik ’n duur besigheid is. Iemand moet pa staan vir die rekening daarvoor. In alles wat ons tot nou toe bespreek het oor navorsing, was die veronderstelling dat die navorsing onpartydig is, sonder enige vooropgestelde of verskuilde agenda. Die probleme wat ek uitgewys het, het bloot te make gehad met die navorsingsproses self, en menslike foute.

Maar nou kom ons by ’n baie meer onheilspellende aspek daarvan, waar vooroordeel en verskuilde agendas by die vergelyking insluip. Wie kan vandag regtig bekostig om uitgebreide en duur navorsingsprojekte te onderneem? Mense met geld. Groot spelers in die korporatiewe omgewing, gewoonlik. En dis net hier waar alle goeie bedoelings met wetenskaplike navorsing uitmekaar kan spat. Ek is persoonlik van oortuiging dat min van al die navorsingsprojekte wat onderneem word op die gebied van gesondheid deur ’n verskeidenheid van maatskappye wêreldwyd, volkome onpartydig is. En veral wanneer dit onderneem word ter ondersteuning van hul eie produk, diens of filosofie.

Wanneer navorsingsborge wetenskaplikes onder druk plaas om navorsingsresultate in enige rigting te stuur behalwe dié een wat werklik onpartydig is, word die uitkoms bevlek en gekorrupteer. Die realiteit van die saak is dat groot geld baie mag daarmee saamdra, en enigiets of enigiemand in konflik met sy oogmerke uit die pad kan stoomroller. Goedbesoldigde wetenskaplikes gaan dit baie moeilik vind om die hand te byt wat hulle kos gee en sal – gewillig of onder protes – maar saamgaan met die stroom. Die wêreld is besaai met bewyse, en nog meer aantygings, van hierdie soort bedrog.

Navorsingsresultate en -aansprake het deesdae ’n sterk regsdokument-voorkoms, met slim prokureurs en kenners van semantiek wat alles só omskryf dat daar genoeg skuiwergate sal wees vir beskerming in die geval van skade en skadevergoedingseise. Ditsem, bring die regskenners en alles word wasig en verwarrend. Hoe meer verwarring, hoe beter.

Ons sien dit vandag oral – aansprake van wetenskaplike bevestiging van omtrent enigiets wanneer dit kom by gesondheid en gesondheidsprodukte. Maar wanneer onpartydigheid nie deel van die vergelyking is nie, kan ons nie langer praat van suiwer wetenskaplike navorsing nie – ons betree dan die koninkryk van pseudo-wetenskap en kwaksalwery.


Pseudo-wetenskap en kwaksalwery

As jy gedink het dat wetenskaplike navorsing ’n turksvy kan wees, dan kan jy maar gerus die woorde van ’n popliedjie uit die sewentigerjare van Bachman-Turner Overdrive saamsing: “You ain’t seen nothin’ yet, baby…”.

Die woord “pseudo” beteken letterlik: “amper”, of “vermom as”, of “gee voor om te wees”. Gebruik enige van hierdie betekenisse saam met die woord “wetenskap” en jy weet presies waarmee jy te doen het. En kwaksalwery? Die woord is afgelei van “kwak”, wat verwys na mense met gebrekkige of geen opleiding wie voorgee om mediese kenners te wees en mediese behandeling of advies aan ander gee.

Dis duidelik dat pseudo-wetenskap en kwaksalwery baie nou verwant is aan mekaar, en die sleutelwoord wat hulle in gemeen het, is “voorgee”. Ons het hier te doen met iemand of iets wat voorgee om iemand of iets te wees wat hulle nie werklik is nie.

Om ’n idee te gee waarvan ek praat, kom ons neem die voorbeeld van ’n eenvoudige behandeling vir, sê maar, gebarste en skurwe hakskene. Jy gaan koop ’n klein houer welbekende bevogtigende hakskeenbalsem by die apteek of supermark. Kom ons noem dit Produk A. Dit is goedkoop, en bevat ’n paar basiese bestanddele soos lanolien en ureum, opgeklits in ’n vetterige roombasis. Produk A is nooit werklik onderwerp aan wetenskaplike navorsing nie, maar het sy ontstaan te danke aan die kommersialisering van iemand se ouma se resep vir skurwe voete, van dekades gelede. Met verloop van die jare het dit gegroei tot ’n bekende en wydgebruikte handelsmerk, en almal weet dat die kwaliteit aanvaarbaar is en dat dit gebarste hakskene in omtrent ’n week tot 10 dae sal uitsorteer.

Maar nou kry jy ook ’n nuwe, rewolusionêre hakskeenbalsem op die mark, Produk B. Hierdie een bevat ’n lys van natuurlike kruie en wat nog, en maak daarop aanspraak dat dit gebarste hakskene in 3 dae volkome genees. Ondersteun deur wetenskaplike toetsing, nodeloos om by te voeg. O, en voor ek vergeet, slegs beskikbaar by ’n paar uitgesoekte gesondheidswinkels, of erger nog, deur ’n ketting van sogenaamde multi-vlak bemarkers. Die prys? Wel, ’n hele paar keer die prys van Produk A.

Indien die navorsing alles in plek is en dit bewys die aanspraak van genesing in 3 dae, is alles in orde. Indien die klant bereid is om soveel meer te spandeer vir vinniger resultate, is dit sy eie keuse en ’n bevestiging van die vryemarkstelsel se vermoë om aan mense ’n wyer keuse van produkte te kan gee.

Maar wat gebeur as die aansprake versinsels is, en daar nooit behoorlike toetsing uitgevoer is nie? En hierdie Produk B niks beter vaar as Produk A nie, of selfs slegter? Dit gaan alles oor mense mislei om hulle so ver te kry om meer te betaal, sonder dat daar vir hulle meer voordeel is.

In enige bedryf probeer die vervaardigers altyd om die maksimum prys vir hul produkte te vra, en kyk voortdurend na waarmee hulle kan wegkom. Daar is op sigself niks hiermee verkeerd nie, dis ’n algemene besigheidsbeginsel. En dis nie rêrig ’n geheim dat prys hoofsaaklik bepaal word deur aanvraag gebaseer op die klant se persepsie van produkgehalte en -verrigting, meer so as om bloot ’n winsmarge by die produksie- en verspreidingskoste te voeg nie.

Maar dan begin die bedrogspul. Vraag moet geskep word deur bemarking, en dis hier waar voorgee en misleiding die botoon begin voer. Hulle maak aanspraak op wetenskaplike toetsing en bewyse dat hul produk superieur is. En as gevolg van hierdie dramatiese verhoging in kwaliteit, kan dit vir soveel duurder verkoop word. Die hoër prys gee op sigself aan die klant die persepsie van beter kwaliteit, en dat die produk op die een of ander manier baie beter as goedkoper ekwivalente moet wees.

Ongelukkig is daar meer en meer aanduidings vandag dat die navorsingsaansprake van honderde, selfs duisende, produkte tans op die mark, vals is en dat daar geen wetenskaplike bewyse vir hul wonderlike kwaliteite bestaan nie. Almal sit net die bewoording “navorsing het getoon...” op die etiket en ’n oorgretige mark sluk dit sonder om veel daaroor te dink. Hoe kan ek so ’n wilde stelling maak oor ’n multi-biljoenrand bedryf?

Baie maklik. Dis nie ek wat die stelling maak nie. Gaan google gerus ’n soekterm soos “health product false claims” en jy kry meer as ’n miljoen soekresultate wat jy kan begin deurwerk. Dis die een hartseer verhaal ná die ander. Daar sal altyd genoeg liggelowige verbruikers wees om hierdie soustrein vir altyd aan die loop te hou.

En nou, net om dinge nog verder te kompliseer, ’n goëlbal in soverre dit sommige van hierdie “verdagte” gesondheidsprodukte aangaan. Tussen al die vals aansprake en misleiding deur, sal daar statisties gesproke ’n hele klompie produkte wees – en daar is – wat werklik aan die verwagtinge voldoen en op die lang duur werk, of ten minste sommige van die voordele bied waarop hulle aanspraak maak. Die kuns is natuurlik om sodanige produkte te identifiseer, en dit kan soms moeiliker wees as om na ’n naald in ’n hooimied te soek. Dit bring ons weer eens by die 80/20-reël. Of is dit ook meer waarskynlik die 99/1-reël in hierdie geval?

Net ’n vinnige terugflits na Bemarking 101 om onsself te herinner aan die primêre kragte wat aan die werk is wanneer mense koop – of dit nou produkte of oortuigings is. Mense koop met hul emosies en gevoelens. Die koop van enigiets is grootliks ’n emosioneel- en gevoelsgedrewe proses.

Dit is so dat produkspesifikasies en tegniese kwessies (feite en jou intellek) ’n rol speel, maar wanneer dit kom by die besluitnemingspunt en jy moet vir jouself sê: “ja, ek gaan nou hierdie item koop” en die kontant of kredietkaart uithaal, word alles gereduseer na suiwer emosie en gevoel. Hoe gemaklik jy met die koop is, en jou innerlike kropgevoel (“gut feel”).

Jy ken bes moontlik die uitdrukking “kopersberou”. Dis ’n gevoel wat mens soms kry onmiddellik nadat jy iets gekoop het, ’n diep onrustigheid of vrees dat die aankoop wat jy so pas gemaak het dalk ’n ernstige fout was en jy jou geld gemors het, of te veel betaal het. Ironies genoeg word daardie gevoel vir die meeste mense waar bewys ná die tyd.

Sien, ons praat van suiwer emosie en gevoel hier – beide vóór en ná jy gekoop het. Hoekom dink jy haal gesoute verkoopsmense al hul ammunisie en truuks uit om jou so ver te kry om te koop en net daar die transaksie te beklink, voordat jy te veel kans kry om daaroor te dink? Wanneer die emosies en gevoelens van die oomblik afkoel en meer rasionele denke oorneem, stel dit jou in staat om nie deur die opwinding meegesleur te word nie. En miskien te wonder of jy nie dalk iets beters elders kan kry nie, teen ’n beter prys.

Kom ons grawe so ’n entjie dieper en kyk na een van die mees kragtige en algemene misleidingsmetodes wat wyd gebruik word in die gesondheidsbedryf. Die gebruik van hierdie metode word nie beperk tot produkte alleen nie, maar word ook in ’n wyer konteks aangewend wanneer iemand probeer om jou te oortuig van enige spesifieke leefstylfilosofie of oortuigings oor gesond leef.

Onthou, misleiding kan direk wees – blatante leuens en ongegronde aansprake – maar direkte misleiding kan dikwels herken word vir wat dit werklik is. Maar wanneer mens inligting teëkom wat bewese feite of algemene waarhede bevat, het die feitelike gedeeltes die neiging om op ’n manier die res van wat aangebied word, ook in ’n waas van waarheid te kleur. ’n Soort van vindikasie deur assosiasie, net soos ’n paar druppels ink ’n hele emmer vol water kan verkleur.

En verder, indien daar inligting is wat belangrik is maar wat moontlik teenproduktief kan wees vir die boodskap wat jy wil oordra, is die maklikste om dit bloot te ignoreer en te versuim om dit te noem. Moenie slapende honde wakker maak nie.

Hier het ons dan nou die wenresep – die kragtigste manier om selfs sommige skeptici te mislei en te oortuig: Feit, fiksie en versuim word saam vermeng tot ’n gladde beslag, met alles geweek in geloofwaardigheid en respektabelheid.


Vermenging van feit, fiksie en versuim

Tydens die versameling van inligting vir hierdie boek, het ek ’n promosiepamflet vir ’n terug-na-die-natuur leefstylplan gelees, wat gemik was daarop om mense te oortuig om ’n reeks vegetariese (vegaan-styl) supplemente en varsprodukte te koop.

Interessant genoeg, het die mense agter hierdie bemarkingsveldtog verwys na ’n soortgelyke gevallestudie as die een waarvan ek vroeër gepraat het, naamlik dié van ’n voorheen ongerepte oerwoud-stamgemeenskap wat ontwortel is en daarna begin verval het in hul verstedelikte bestaan. Die pamflet het verwys na die navorsingsresultate as basis vir hul siening dat ons meer “natuurlik” moet leef, omskep in ’n kragtige boodskap en verkoopsargument. Met gebruikmaking van ’n aansienlike hoeveelheid digterlike vryheid, sou dit uiteindelik blyk.

Nietemin, hulle skilder ’n prentjie van gesonde woudbewoners met ’n aktiewe leefstyl, wat leef van ’n dieet van wilde vrugte, bessies, neute, sade en groenigheid. Alles, uit die aard van die saak, organies beskikbaar van Moeder Natuur via die tropiese woud, ongeskaad en onbesoedel deur enige kunsmis of gifstowwe. Hulle gaan dan voort om die verpletterende impak van verwestering en die stedelike leefstyl aan te toon, met direkte verwysing na die bevindings van die navorsingspan, en die uitwys van die hoofsondaars – verminderde fisiese aktiwiteit, alkohol en ’n gemorskos-dieet ryk aan vet, sonder al die goeie nutriënte.

Dan kom die trefreël van hul lewensfilosofie, ondersteun deur die werklikhede van die navorsing wat so pas onder jou neus gevryf is. In kort, stel hulle voor dat jy so gou doenlik oorskakel na ’n vegetariese leefstyl, sodat jy ook die voordele kan trek van “terugkeer na hoe ons geleef het in die natuur”. Geen alkohol ooit weer nie, en alles wat jy eet of drink, moet volgens die vegaan-styl wees. Anders is dit nie meer “natuurlik” nie, en jy gaan jouself baie vinnig op ’n glybaan van verval bevind, terug na die slegte Westerse leefstyl.

Jy kry ook die belofte dat indien jy hul voorgestelde leefstyl sou volg, jy kan uitsien na ’n lang, gesonde en voorspoedige lewe. Jou verstand sal meer aktief geprikkel word met ’n verskerping van jou sintuie, en jou ’n onaantasbare voorsprong gee bo ander. In besigheid, in gesondheid en – jy het reg geraai – in die bed. Maak gereed om jou bedmaat na nuwe hoogtes van ekstase en vervulling te voer.

En dan, om mee af te sluit, gee hulle ’n praktiese bewys van hul saak deur die voorbeeld van een van hul stigterslede wat 100 jaar oud geword het voordat hy rustig een nag in sy slaap heengegaan het, aktief en gesond tot die bitter einde.

’n Baie kragtige en emosionele boodskap. Die oplossing wat hulle voorstel en die inligting wat hulle gebruik om hul standpunt te staaf, lyk op die oog af geloofwaardig. Die navorsingsresultate wys heel duidelik dat die bosbewoners beter daaraan toe was in die bos, en daar is genoeg ander stawende bewyse dat verstedeliking en die Westerse leefstyl baie tekortkominge het en mense blootstel aan ernstige gesondheidsrisiko’s.


Continue reading this ebook at Smashwords.
Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-30 show above.)