Excerpt for 'n Mandjie vol Stories by Perske Wang, available in its entirety at Smashwords

This page may contain adult content. If you are under age 18, or you arrived by accident, please do not read further.




n Mandjie vol Stories


Deur: PerskeWang storiegroep


Geïllustreer: Hanlie van Schalkwyk


Kopiereg: © PerskeWang 2012


Wisteria Avenue, Faerie Glen, South Africa


1e Uitgawe, 2012 – 2 – 18


ISBN 978-1-4661-8438-1


Published by VDS Brink at Smashwords


PerskeWang@gmail.com


“PerskeWang kort-kort Stories is ’n briljante inisiatief waar aspirant skrywers deur middel van interaksie met ander skrywers die geleentheid gebied word om nie net kommentaar op hul skryfsels te ontvang nie, maar ook die waarde van hulle werk te meet aan die skrywes en terugvoer van ander skrywers. ’n Blad waar mens aangemoedig word om te publiseer en daadwerklik die kans gebied word om in E-formaat jou werk die lig te laat sien, vriendskapsbande wat gesmee word en die gemeenskaplike behoefte om te skep, bring ’n gemoedelike atmosfeer waar elke skrywer gemaklik voel in die skeppingsproses. Dit is laasgenoemde gemeenskaplike gevoel wat mens trots en nederig laat om deel van so ’n projek te mag wees.” Renè Hvidsten


“Om ‘n geliefde te verloor, is hard. Maak dit twee, en dis nog harder. Vir my in elk geval. Mens wil graag praat, maar mense raak uitgeluister. Iewers moet jy ontslae raak van die woorde wat in jou opgekrop lê. Met tyd kom mens agter dat jy kan jou woorde ook anders gebruik. Jy kan dit in sinne sit, leestekens byvoeg, woorde doelbewus verkeerd spel selfs, as jy wil. En jy kan ‘n storie skryf, ‘n skets, ‘n kort-kort verhaal. En jy kan dit met mense deel. Hulle kan dit geniet. Of nie geniet nie. Maar die feit bly, jy kan van daardie woorde in jou kop ontslae raak.”


“So is PerskeWang kort-kort Stories vir my. ‘n Ruimte waar ek my sê kan sê. Vir myself, maar ook vir ander. In die proses, kry ek heling, gesondheid, oefen ek my brein, verander my gedagtes. Weg van die negatiewe, ewig vorentoe in hoop op die positiewe. En vind ek daar is ander soos ek, elkeen met ‘n ander seer, of ‘n ander storie, gebeurtenis, by wie ek kan leer. Dan raak die oomblik vir my ampers sacrosanct – amper soos die gemeenskap, van die heiliges.” Lylo de lange


“Dit was vir my ʼn besondere blye dag toe ek lees-lees aan vriend Len se griffels, PerskeWang kort-kort Stories se blaadjie ontdek het. Skielik het ek ʼn skryf plek gekry waar ek op my manier kon skryf en ʼn plek waar mede woord Towenaars geldige en goeie kommentaar en kritiek gelewer het. Soos dit met facebook groepe gaan, het almal baie gou in mekaar se lewens in geloer en daar is vriende gemaak. Ek dink dat meeste van ons nog heimlik hoop dat ons by wyse van osmose of die hogere inwerking van die magiese en mistieke in meester skrywers sal ontwikkel. Die hoop beskaam mos nie?” Mariana Osbourne



Voorwoord


So many of our dreams at first seem impossible, then they seem improbable, and then, when we summon the will, they soon become inevitable.” - Christopher Reeve-


PerskeWang kort-kort Stories het begin as ’n eenvrou werf met een storie en min lesers…’n werf waarop PerskeWang kort-kort een van haar reisverhale wou plaas. (haar stories wou nie lekker lepellê  tussen gedigte nie.)

Maar, om te skryf is om te laat lees en te laat geniet. So word ander skrywers/swerwers  toe genooi om saam te swerf. Onverwags begin die werf opstaan, amper soos ’n olifant wat ’n doofpyltjie gekry het en nou te vinnig wakker word terwyl daar nog aan sy tandpyn gewerk word.

Woorde begin branderrol, vriendskappe begin aanhaak en raak dit meer as net ’n kuierplek. Dit word ’n SOSlyn tussen Kazakhstan en die rooigrond van PerskeWang se bestaan.

’n Mandjie vol stories word hieruit gebore.

Soos tevore haak skrywers aan om die besonderse versameling stories in e-boek vorm te help vlerke gee. Dit word ’n plek waar voëltjies arendsvlerke kry, waar sterre raakgesien word, sonder twyfel, nog hemelhoog gaan skyn!

Aan elke medeskrywer wat bereid was om saam te droom, nie net julle skryfwerk nie maar ook julle vertroue in die projek geplaas het, PerskeWang waardeer dit opreg! Sy is terdeë bewus daarvan dat vertroue verantwoordelikheid meebring.


Mag PerskeWang kort-kort Stories heerlik woordwoeker tot vreugde van elke skrywer en leesgenoot.



Die lewe is ’n storie, skryf hom!

Inhoud


Voorwoord

Toe my lewe miniatuur…..Adéle van der Berg

Pasop vir die adres..... PerskeWang

Die ander kant..... Ian Smit

Die Party….. Mariana Osbourn

Die Kleur van Lemoene….. Renè Hvidsten

Ou skoene kan praat..... Elizabeth Kendall

Ek gaan jag, kom jy saam? Ruslan Romanov

Sement en leeus.....David Morrison

As ‘n Seder val…..Lylo de Lange

Rooigrond van my bestaan.....PerskeWang

YS-like kinderstories..... Ruslan Romanov

Hasepad.....Charl Bezuidenhout

Om te weet.....Ellen Margaret Hancke

Bedelaarswoorde vir die dors.....Ronell Marais

Fiat Jutitia.....Estelle Odendaal Duvenhage

Slaaptyd vroetel…..Mari Mackie

Ignorant Stupid…..Wilie Wil

Ander Ma kry…..Pierre van Niekerk

Lied van die Heelal…..Lourens Oosthuizen

In die Bosveld is ek tuis.....Boerius

Uit ‘n ander wêreld…..Van der Spuy Brink

Nawoord

Ons Skrywers

My miniatuurlewe

© 2012 Adéle van der Berg


Drie maande.

Drie maande? Is dit al?

Drie maande vandat ek uitgetrek het en my huis verkoop is. My kinders het versigtig-soekend hulle woonsteltoekoms ingeval, opgewonde hul eerste tree gegee in hulle soeke na selfstandigheid. Onafhanklikheid. Uit ma se huis maar nie uit haar hart nie. Pakkies vol kommer word soms voor my hart se deur afgelaai, soms soos petrolbomme deur my hartsvensters gegooi, maar ek bêre dit elke keer op elkeen se spesiale boekrakkie waar hul name in goue liefdesletters uitgekerf is. Daar teen die sykant van my hart, naaste aan my borsbeen. Daar waar ek dit kan lees wanneer ek op my knieë neersak. Dit is so maklik om dan in my bed in te skuif.

Ek het weke lank rondgesoek na ’n blyplek. Klein, maar groot genoeg om in asem te haal. Ek leef immers nog. Ek wil nie elke keer uitgaan wanneer my gedagterigting verander nie. Ek het al begin moed opgee en wou sommer die eerste volgende huis vir my vat. Toe bel vriendin Ems my.

“Ek het jou huisie gekry!” Van pure opgewondenheid het haar asem amper weggeraak. “Onder in Kastaiingstraat, teenaan die spruit.”

“En wanneer dit reën dan moet ek alles aan ’n wasgoeddraad vasknip.”

“Nee, Freda. Die huis lê bokant die hoogste watermerk. Maar soggens gaan die sonstrale een-een skuins oor jou vensterbank klim.”

“Ja?” My stem ontmoedig selfs die skadu’s om my. Maar nie vir Ems nie.

“ In die winter gaan die eekhorings saam met jou in jou songevulde sitkamer sit en van mandjies vol akkers droom.”

“En in die somer gaan ek alleen smelt.”

“Nee, jy gaan nie. Gooi af jou vooroordele en kom kyk waarvan ek praat.” Ems het haar ongeduld ingehou want sy kon seker al my gesig sien as ek daar aankom.

Dit was alles wat ek wou hê en nog meer.

Die meeste van my meubels wat ek in amper veertig jaar bymekaargemaak het, is of saam met die kinders of verkoop. My Kastaiingstraathuisie het ’n piepklein kombuisie met ’n ingeboude eethoekie waarop ek ook my etes moet veerberei. Selfs ’n tweesitplek-eetkamerstel is totaal oorbodig. My swaar bal-en-kloupote-sitkamerstel het plek gemaak vir die mooiste rottangbankie en stoele met fleurige sonskynkussings. Slegs my klavier het behoue gebly. Die kombuisie en sitkamer is ’n eenvertrek-aanmekaar-leefruimte vol lag en gesels. Die badkamer het ek met perskekleure en fyn varings behang.

My slaapkamer is geseën met ’n boekrak vol lekkerlees boeke, digbundels, musiek boeke en my rekenaar. Alles is omring deur plante vanaf ’n tuingroen bont duvet en gordyne wat so lewendig lyk soos die enkele twee potplante waarvoor ek plek kon vind. Voor die noordevensters staan bosveldbome wat die son in die somer verkoel.

Ek moes leer om klein te leef. Vir een. Nie dat dit veel van ‘n kursus was nie; prakties is ek daartoe gedwing. En nou, drie maande later, leef ek miniatuur. Ek bêre elke boek waaruit ek lees, omdat twee boeke wat rondlê, die plek soos ’n rommelhoop laat lyk. Ek berei etes vir een, wel…amper al. Net soms kook daar nog etes oor die pot se rand waaraan ek ’n week lank eet. Ek het immers tot ’n klompie weke gelede nog vir vyf mense gekook. Soms wil ek halfpad deur my ete eers die helfte van my skottelgoed was. Wanneer ek meer as net ’n snytjie roosterbrood maak lyk dit of ’n orkaan deur die vertrek getol het. Ek braai ’n anderhalfduim lange worsie in ’n drieduim-deursnee pannetjie; kerf ’n halwe ui om saam met een klein tamatie te braai. Soms kraak ek al die derde eier voor ek onthou ek hoef nie ’n volle dosyn eiers te roerbraai nie. Ek eet dae lank aan ’n botteltjie kerrieboontjies. En vanaand het ek dit reggekry om al my pasta op te eet. Ek het net genoeg droë pasta geneem om die kleinste kastrol in die stel se bodem amper vol te maak.

Nou sit ek in my bed waar die elektriese kombers ’n salige hitte deur my bene sprei en tik ’n mini-storie. En ek dink aan hierdie nuwe lewe wat ek treetjie vir treetjie instap. Ek is darem al deur die hekkie nadat ek dae lank daar by die heining vasgehaak het. Vreugde het sy blommestringe om my pols gebind en trek my dieper in die toekomstuin in. Belofte fluister dat ek vir die eerste keer in dekades kan doen wat ek wil, wanneer ek wil en hoe ek dit wil. Ek gaan nie soos ‘n uil op ’n kluit bly sit nie. Ek gaan in mini-ure na my kinders verlang. Ek gaan elke dag se ministukkies genade aanmekaar stik met miniatuur kruisstekies tot dit ’n groot toevoukombers word.
My mini-lewe gaan ek nou met oorgawe leef!


Terug na inhoudsopgawe


Pasop vir die adres wat jy nie ken nie...

© 2012 Perske Wang


Met die hartverskeurende woorde en treurige klanke van Skipskop in my kop is ek gisteraand bed toe en het vanoggend weer daarmee opgestaan. Wanneer gaan die dinge endkry?

So kom ʼn vriend van my einde April in Kanada aan na hy geëmigreer het; sy goedjies gepak en sy bootjie verkoop. Die langpad gevat, bondeltjie oor die skouer.

Ek hét probeer walgooi maar aangesien ek reeds uit ʼn ander land praat, was daar nie veel wat ek kon sê nie. Verál nie nadat hy twee keer in sy huis beroof is terwyl hy lê en slaap het nie. En maande later ook langs die pad by ʼn winkelsentrum “opgelaai” is en tussen die bosse langs die hoofpad aangerand en van sy laaste besitting ontneem is nie.

Daar was niks wat ek kon sê nie! Die bekende adres móés plek maak vir ʼn veilige maar onbekende een.

Kanada is koud sê hy. Die sneeu is baie. Die tannie by wie hy sou loseer het, dra slippers en speel met haar kat. Onderklere bestaan nie vir haar nie. Die kateltjie waarop hy sou moes slaap se bedsprêdjie is vol koffiekolvlekke, vertel hy verder.

“Hoe seker is jy dis koffiekolle?” spot ek.

Speel jy toe nie maar met die katjie nie?”

Grappies op ʼn stokkie – gelukkig kon hy darem daai aand sy kop op ʼn ander skoon bed neerlê.

Ja pêl, ons spot. Ons spot oor bralose anties met slippers en ʼn Liewe Heksie-kat; oor klein, smerig-in-die-hoek kamertjies met lendelam kateltjies en afgeleefde bedsprêdjies.

Ons lag, maar dis ʼn lag met ʼn vet, blink traan skuins in die ooghoekieholte. Daar waar niemand veronderstel is om dit te sien nie. Want ons spat uitmekaar; soos ʼn hand vol albasters wat op die grond laat val is, spat ons uitmekaar. Party beland in ʼn donker hoekie, doer ver onder die stoel; ánder rol tot in die middel van die vloer vir enige iemand om op te trap óf op te tel.

En ons praat met vreemdelinge by die werk. Vreemdelinge op straat. Vreemdelinge in die kafee. Ons bly in onbekende plekke by adresse wat ons nie ken nie. Ons probeer naarstiglik om die “memory” te “delete”! Nou skree ek ook soos die graffiti-skrywer van Johannesburg: “Habakuk 5, vers 13: God weet, só kan dit nie aangaan nie.”


Terug na inhoudsopgawe


Die ander kant

© 2012 Ian Smit


Almal kom en gaan. Daar is vir my niks lekkerder as om na mense te staar nie. Partykeer so openlik te staar dat ek na die tyd skrik vir my onwelvoeglike gedrag.

Op Stellenbosch se straathoek by die wankelrige koffietafel in die stampvol kuierplek, kom niemand egter agter ek staar en staar nie. Almal te besig om te kom en gaan.

Hy trek die stoel met sy voet uit en sit. So ‘n skewe traak-my-nie-agtige sit. “Thanks dat jy die plek gehou het ”. So raak ons aan die gesels. Oor vertonings en mense. Oor maskers en wense. Oor lande en ver-ver grense.

“Die een noot van jou nuwe song. Aan die ander kant, dis een van die mooiste note wat ek nog in my lewe in ‘n song gehoor het ”, sê ek, terwyl ek wonder of hy enige reaksie daarop gaan hê. Soos ek verwag het, sê hy niks. Bestel nog ‘n koffie en sit sy donkerbril op.

“My grootste droom is dat mense, duisende mense, nee miljoene mense, eendag sal verstaan wat en hoekom ek regtig sing. Dat ek eendag ‘n massiewe groot show kan hê waar almal sal verstaan dat woorde en lirieke die pragtigste metode van kommunikasie op aarde is,” praat hy op een noot voort, terwyl ek elke woord wat hy sê indrink, soos die koffie wat voor hom staan en koud word.

Terwyl ek opstaan en my goed op die tafel begin bymekaar maak, kyk hy skalks na my en sê: “Ek kannie glo dat jy in daardie hele song een noot kies om my te komplimenteer nie. Weet jy hoe lank het ek geoefen om dit so te kry? Dankie dat jy dit hóor.”

Ek strompel jare later met my kamera tussen die bosse en struike rond, net buite Kleinmond waar iemand die oggend op die wreedaardigste manier sy eie lewe geneem het. Op pad na die klein boompie waar hy homself opgehang het, lê plassies bloed en struikelmerke. Hoe bang moes hy nie op die staduim gewees het nie. Soekend na ‘n boom wat sterk genoeg sou wees om sy gewig te kon dra, nadat hy homself reeds vlenters gesny het, draai dit in my kop.

Was daar dan niemand wat opgemerk het dat hy so iets beplan nie. Niemand wat meer na hom wou luister nie.

Niemand wat geglo het hy gaan dit doen nie. Niemand vir wie hy net op daardie stadium kon bel en sê waarmee hy besig is nie. Wonder ek oor en oor.

Die aand sit ek en luister na die song. Die song met die mooi noot. Aan die ander kant. Jy het toe jou show gekry, Johannes, jou show met miljoene mense wat luister en kyk en wonder.
Jou grand finale was lelik en sonder woorde en sonder groet, maar het miljoene van ons laat besef ons moet ons oë en ore oophou om te sien as mense na aan ons besig is om stadig weg te sak – weg te sak na die ander kant.


Terug na inhoudsopgawe


Die Party


© 2012 Mariana Osbourne


Daar is mos altyd so ‘n "geit" wat in my diepste inners uitslaan op elke oujaarsdags more. So by so ontaard dit altyd in Asprisgeit ! Altyd

Dis oor Die Paartie. Vir een keer ‘n jaar laat hulle my los tussen die massas en in my inners woel dit. ‘n Wasmasjien emosies van vrees vir stout kinders en baie mense en die opgewondenheid omdat ek baie cases het wat ek kan psyco analise en (na tyd genoeg stof tot nadenke het om my ‘n hele jaar besig te hou) Ook stof tot dankbaarheid dat alles met my wel is .

Kyk nerens in die wereld kry mens sulke wille, feral kids soos hier nie. Wetterpesse. Neem omtrent net : "Groet die mense en gaan speel by die rivier en moenie die krokkidille pla nie) voor die voorbok first blood draw. Ek verstaan hoekom die kinders se ouers ook selle tyd afstand doen van eienaarskap van die telge en in ontkennings fase ingaan met behulp van iets sterk (after all hulle het heel jaar daai kinders) Ek weet nie wie se kind is dit nie, vanoggend by die voordeur gestaan met my kind se klere aa

Ding is die ouers is ‘n droom cases. Almal trek mos bos toe, to get away from it all....... not ! ou maat hulle bring al hulle baggage saam. ! En kom laat aand en die bottels word leer en die brein slat oor van beneweld na verlede toe.... Boeta ! dan kom die waarheid uit in volle onnodige detail. Fact is stranger than fiction.

Elk geval ek sien uit na die skaap braai en harde musiek en die inhibisielose fatalisties oorgawe aan Fate.

Laat hy val waar hy wil !

Wat die Brats betref, is ek reg vir hulle. Crash helmut, vliee plak ( as jy reg mik slat jy ‘n mean hou)n bottel versterkwater en baie ys en ‘n R9.99 invoice boekie.

Kom 10 uur gaan ek al die spawn-of-Satan bymekaar fnuik roep vir ‘n nuwe game. Die game se naam is Houdini-kul jou hier-kul jou daar.

Auntie Mariaan gaan hulle almal Hog Tie en aan die doringboom onder in die tuin vasmaak, en hulle moet hulle self los kry. ...... Ai en ek is so baie bly ek ken so baie knope.

I see a bad moon rising.... I see Maraai is on the way.. la la laaa

Gaan gou artappel slaai maak vir ‘n Impi (o jaa die boekie is dat ek sommer onmiddelik die rekening kan gee vir my ongevraagte raad en advies) As julle wil hê ek moet luiter moet julle Bataal…

Anyways

Mag julle almal oormore as julle wakker word die nuwe jaar in, met entoesiasme en sonder bagasie


Terug na inhoudsopgawe


Die Kleur van Lemoene


© 2012 Renè Hvidsten

Soms is dit net ’n reuk. Ander kere is dit iets wat iemand onnadenkend sê. Soms is dit bloot ’n sagte fluistering deur die newels; ’n dooie asem uit tyd wat jou versteen en magteloos agterlaat om te sit en staar na die beelde van wat eens werklik was. Nou is hulle ingekerker, gereduseer tot vae skrikbeelde wat op impuls reageer en in chaos deurbars in oomblikke wat jou soos in ’n bose droom agterlaat.

Dit is iets soos: “Hoe was dit?”

Want, as ek jou sou vra wat is die kleur van gras, dan sou jy antwoord: “Dit is groen.”

“Hoe was dit?”

Stap, tree vir tree in gevegsformasie, sweet, so bedompig jou asem skroei jou keel en los jou tong dik en geswel agter in jou mond. En moeg, jy stap al vir vier of vyf kilometer deur digte moeras, vol kit …Doodse stilte. Regs. Warrefok is dit? Hopie grond, dis ok, net los blare en takke. Sien vir Annie in haar wit rokkie, beautiful, wens jy’s al tuis. Nog een, daar’s ook een, net los grond en takke, als ok, ontspan, sluip stil verby, doodstil, skadufigure wat geruisloos deur die bos beweeg, ruik ma se bobotie, voel die dorheid in jou keel, verlange brand regdeur jou, spanning. Here…nie vandag nie, Here, ek wil hulle nog net een keer weer sien. Dis so stil, té stil, niks voëls nie, doodstil.

Tap-Tap! Duik neer innie grond, rol, god dit was amper, kruip vorentoe, gil hardop uit vrees woede wydgesperde oë soek sien fokkol skiet skiet skiet here god help nie vandag nie vorentoe altyd vorentoe die vyand is daar voor waar de fok is hulle god kan die geraas nie net stop nie skiet skiet skiet rol spring op hardloop drie tree val rol skiet skiet skiet spring op storm gil uit volle bors val rol skiet skiet skiet wie gil so daar’s een skiet die doos god dis mis kruip agter die bos weg deur die bos vorentoe hou die lyn reguit oë traan vannie rook lag gil fokken hardop skreeu op die vyand dat hy kan bang raak skiet skiet skiet god hier’s een skiet hy val goed so doos lelike fokken moer hoop jy vrek stadig skiet hom weer maak seker maak leeg jou magasyn op hom kry so fokken lekker jy’t hom eerste gesien dom fokken doos here vergewe my al my sondes nie vandag nie here hou die lyn reguit god wat was dit skiet skiet skiet jammer dat ek so vloek ag vergewe my tog net god eks so fokken bang vergewe my tog here hou reguit die lyn hardloop drie tree val skiet die doos daarsy skiet die moer god wat was dit ontploffing so fokken hard rook swart wie skreeu so daar’s nog een skiet skiet skiet waar de fok is robbie wat de fok gaan aan hoekom skreeu niemand bevele nie dit fokken werk nie so nie drie tree val neer rol skiet skiet skiet spring op hardloop drie tree hou die lyn reguit god wie skreeu so daar’s nog een fok die geraas maak my fokken mal ag here laat dit net end kry nie vandag nie here eks nie reg nie ek wil nog kinders hê vat iemand anders god hardloop vorentoe soek soek soek koes hou die lyn reguit rol eina god wat was dit fokken klip gil wie skreeu so stop die fokken geraas spring op drie tree val skiet skiet skiet hoekom val die takke so af god dis ’n lugafweerkanon dis fokken skelm jy mag nie op troepe skiet daarmee nie dis tenie fokken wet issit nie god ek was nog nooit so fokken bang nie skiet die doos val bliksem ag god dis mis waar’s hy nou god here waar’s die donner help my assefokkenblief maak reguit die lyn stop dit nou here stop dit nou hulle gaan my skiet, hulle gaan my skiet here my ma is al oud sy sal doodgaan eks die jongste val rol skiet skiet skiet here vat iemand anders nie vir my nie ek smeek u vergewe al my sondes moenie dat ek hel toe gaan nie spring op storm drie tree val rol skiet skiet skiet rol op storm here ek wil nie vandag doodgaan nie here die geraas ek kan niks fokken hoor nie hoekom is die koeëls groen ek kan dan die koeëls sien hoe de fok werk dit dan koes skiet skiet skiet die doos in sy moer rol op storm drie tree een-twee-drie val rol skiet skiet skiet god hoekom is dit nou so stil?

So, as ek jou sou vra watter kleur ’n lemoen is, dan sou jy antwoord: “Dis oranje.”
Want jy kon dit sien.


Terug na inhoudsopgawe

Ou skoene kan praat


© 2012 Elizabeth Kendall


‘n Paar bruin Jack & Jill skoentjies van egte leer. Toerygskoentjies, bruin veters en al. Sterk en duursaam. En teen dié tyd al vyf-en-dertig jaar oud. Die verhaal van vier kinders grootmaak in verskillende provinsies en huise in ons ongenaakbare land.

Dié ou skoene begin praat oor‘n lang blokkiesvloergang in ‘n huis op die Gevangenisplaas Bizweni in die Transkei. Ons eersgeborene was toe ‘n vrolike krulkopkleuter en dié leerskoentjies haar eerste paar “regte” skoene. Ek sien haar nog in die gang afkruip en oor haar skouertjie loer: “Kom Mamma! Vang my as jy kan!”

Die skoene is elke dag aangetrek, so ver ek kan onthou. Saam met Mamma skool toe, waar sewe wit kinders gewag het: elkeen van hulle in ‘n ander standerd van Gr. een tot St. twee en boonop nog in albei landstale: Engels en Afrikaans. So saam-saam. Seker dié dat die eienaar van die skoene vandag nog so slim is: sy het al op twee begin skoolgaan.

In Graad twee was Terry Hobson, ‘n blouoog Engelsmantjie, wie se Pa op die dorp Umzimkulu gewerk het. Terry het die heerlikste piesangbrood in sy kosblik gehad wat sy ma gebak het en “Teacher” het gereeld saamgeëet. Ek het steeds die “Banana Loaf”-resep in my resepteboek. Nou is die papier al geel, maar die piesangbrood bly ‘n wenner- ek proe nog die eenvoud van toentertyd se skoolhoujare daarin.

En daar was John Haveman. Sy pa was ‘n “Quantity Surveyor”. Ek kan onthou dat hy nie een woord Afrikaans kon praat nie en ek in die woordeboek moes gaan opkyk wat ‘n “Quantity Surveyor” nou eintlik is! Ja, ek was nog jonk en komende van die goeie ou Transvaal waar niemand juis die rooitaal gebruik het nie, was my Engelse woordeskat ook maar beperk.

Klein Maureen en haar bruin leerskoentjies, haar langbroekies van koordverweel en haar tassie vol blokkies, was daagliks deel van elkeen van hierdie sewe kinders se lewe en hulle het haar op die hande gedra. Ek het ‘n foto waar ek met ‘n oranje bloesie en sandkleurige romp tussen hulle almal staan: die enigste onderwyser, die “tealady”, die sekretaresse van die skool en ja, sommer die hoof ook: alles.

Die skool was in Umzimkulu en sou finaal toemaak aan die einde van daardie jaar omdat dit toe aan die Transkei oorhandig sou word. Elkeen van die kinders het toe maar ‘n ander heenkome gevind toe dit tyd word.

Dit was ‘n wonderlike tyd. My voorkind daagliks saam met my en ek besig met dit wat naby aan my hart lê: kinders slimmer maak. Ons was ons eie baas. Wanneer ek gesien het die kleingoed is moeg, het ek een van hulle aangesê om die handklok te lui vir speeltyd. Dis dan wanneer daai piesangbrood en allerlei wonderlike dinge uit die kosblikkies tevoorskyn gekom het. En almal het gedeel.

Toe Maureen te groot geraak het vir die leerskoentjies, het ek dit mooi skoon gepolitoer en in die kas gebêre. Dit het niks makeer nie. Twee en ‘n halwe jaar daarna het ‘n donkerkopdogtertjie haar verskyning gemaak. Twee sussies wat van die begin af groot maats was en nou, as vroue, steeds vir mekaar meer as sussies is. Marethe het ook die sterk skoentjies gedra toe haar babavoetjies kleutervoetjies word. Haar eerste treë die wêreld in, was met dié skoene aan haar voete. ‘n Stewige wegspring.

Na vier jaar tref die tweeling my: ‘n blou toegedraaide seuntjiekind en reg langs hom, ‘n sussie in ‘n pienk hospitaalkombers. Nogal in Engels gebore in Parklands Nursing Home, Durban.

Tuis op die rak in die kas staan die bruin toerygskoene en wag. Vanselfsprekend sal die seuntjie dit kry en sy sussie sal mos ‘n nuwe paar skoene kry wat ‘n bietjie meer dogtertjierig gelyk het: ‘n bandjie oor die voet, navy of wit met kort, spierwit sokkies daarby. Mannie, my seunskind, was so in sy skik met die toerygskoene. Ewe kordaat het hy deur die huis gestap, die skoene blink gevryf en nog wonderlikmooi.

Hy het dit lank gedra. Dit het gehou. Maar hy is ‘n seun. En seunsgoed is anders. Hy het klippe geskop, langs ‘n grondsloot afgekruip, deur ‘n waterstroom geloop, oor die seesand gestrompel, tussen Bosveldgrasse pad gesoek met dié bruin leerskoene aan. Tog het dit gehou en is dit gereeld goed behandel en met bruin skoenpolitoer blink gemaak. Blikkiespolitoer.

Hy het hy dit ook uitgegroei. Vandag dra hy ‘n nommer tien, voete vas en stewig op Moederaarde. En die bruin toerygskoentjies staan op die rak in die gang in ons ou huis, stil getuies van kindersgrootmaak, van tyd wat vinnig verbyggaan, van winters en somers en baie seisoene.

Dié toerygskoene is deurgekruip, gaap op die punte – ‘n kind se stoute glimlag .


Terug na inhoudsopgawe


Ek gaan jag, kom jy saam?


© 2012 Ruslan Romanov


Donderdagaand bel Skoonpa my. “Ek gaan die naweek jag by Hecktorspruit, kom jy saam? Ek ry môre oggend, jy moet gou sê.”

Ek bel die baas en vra BAIE mooi. Dis reg so, ons gaan jag!

Ons ry eers later as wat ons sou, daar is mos altyd iets wat verkeerd gaan op die plaas. Dis al goed donker toe ons op die jagplek aankom en ons vat die bed vroeg. Nogal in ‘n rondawel.

Saterdagoggend is ons vroeg op en daar is baie roering, die eienaar se seun kom daar aan met ‘n Cortina bakkie tot teen die dak gelaai met “dead on arrival” kalkoene van die slagpale. Die helfte word in vrieskaste gepak totdat die leftovers die bakkie gelyk vol lê.

Daar is tien leeus in ‘n 100Ha kamp wat gerehabiliteer word en die goed kan nog nie self jag nie. “Gaan julle saam? Ons gaan die leeus voer.”

Wat ‘n vraag? Ek en Skoonpa agter op die bakkie saam met ‘n werker. Ons ry langs die leeuheining, dis een meter onder die grond en vier meter bo die grond. Ek wonder so in my stilligheid hoe gooi mens ‘n dooie kalkoen oor die heining?

Ons kom by die hek aan en die leeus loop op en af teen die draad, hulle wag nou al ‘n week vir die happie. Ek kan die honger in hulle oë sien.

Daar is dubbel hekke. Die ou wat agter saam met ons ry, spring af en maak die eerste hek oop. Ons ry in. OK.... ons gaan seker die kalkoene hier aflaai en as ons uit is kom die leeus by die ander hek in mmmm.... Die hek word weer toegemaak en ek dink, ja veiligheid eerste.

NEEEEE ta maak die voorste hek oop en die leeus storm die bakkie. Ek en Skoonpa vertrap mekaar vir daai middelkolletjie agter die bakkie se cab.

Het jy nou al’n honger leeu van naby gesien? Het hy al aan jou been geruik terwyl sy bek kwyl? Hy is fo@@en groot! Nou is daar tien van hulle en party probeer om self kalkoene af te haal, sê nou ek ruik na kalkoen? Ek oorweeg die bakkie se dak want EK is nie leeukos nie. Nou is dit elke man vir homself. Sorrie pappie maar ek sal mooi na jou dogter kyk.

Die bakkie trek weg, onder die leeus uit en hulle harloop agterna. So ‘n kilometer verder hou ons stil en wag vir die leeus. Manie, die vark, gooi ‘n kalkoen vir elke leeu soos hulle opdaag.

Die klomp is tweede generasie oue sirkusleeus wat in gevangeskap groot gemaak is en is hondmak. Manie rehabiliteer hulle en leer hulle jag. Hy stap oor na een toe en vryf sy kop. Ja nou is ons grootbek. Bang vir die ou leeutjies? N-o-o-i-t gesien nie. Later uitgevind dis sy ou laai met nuwe besoekers. Ons het nie veel gejag nie maar lekker gekuier.

Net die klerewasser sal weet hoe bang ons was,” sê Skoonpa die aand toe ons om die vuur sit.


Terug na inhoudsopgawe

Sement met Leeus


© 2012 David Morrison


Daar was sewe dae van totale verlatenheid wat voorlê. Ek was opgewonde en bang terselfter tyd. Daar was geen heinings of versperrings nie. Die kwartiere was so driehonderd meter van die hoof lapa en dit deur bosveld rou en ongeskonde. Die pad teen die kant van die ravyn was uitgetrap deur baie werkersvoete, maar baie meer gevaarlik. Ek dink ek was meer bekommerd oor luiperds as leeus. Die gedagte dat een jou onverwags kan oorval en jou ingewande uittrek sodat die hy makliker kan sleep het my ongemaklik verby gehad.

Die eerste dag was byna komies as dit nie so ernstig was nie. Ek het eers durf uitkom uit my hut wanneer die sonnetjie die dou begin aanvat het en als duidelik verlig was. Ek het reeds voorbereiding getref en 'n roete gekies wat so oop moontlik was en so hier en daar 'n klimbare boom had. Vier of vyf meter, stop, staar, skandeer, ondersoek, stip luister en ruik, dan weer 'n paar meter vorentoe. 'n halfuur later is ek veilig by die hoof lapa. Dan 'n vinnige 10 minuut check om seker te maak als is roofdier vry en dan is dit tyd vir werk.

My sementbeelde was puntenerig in hul vereistes. Keurige meng met presies afgemete bestanddele, meng en bou, sistematiese groepe sodat dit kan set oor die nodige tydsvak om ferm dog kerfbaar te bly, te gou en dit breek bros stukke af, te lank en dit raak onkerfbaar en vereis dat ek dit weer moet afkap en oorbou. So verloop die dag, versonke in die vorming van Renaissance beelde uit sement om later te kan verrys as ingeboude meublement en argitektoniese versiering.

En as die son so 'n hand of twee bo die horison lippe tuit vir die water dan pak ek maar op en durf die stap,stop,kyk,luister en ruik terugtog aan. Om weer 'n halfuur later 'n sug van verligting uit te laat as ek veilig in my hut my voete oplig en die dag se vrees van my afspoel. Tot die volgende dag. Vir ses dae elke oggend en elke aand het ek so vrees gepaai, aan die keel gegryp en sy bek toegedruk, deurgedruk en my beelde laat groei.

Tot op die sewende dag. My dag van rus.

Ek was vroeer op as gewoonlik. En ek het 'n besluit geneem. Vandag gee ek nie flenter om vir die roofdiere wat daagliks vir my vreestog in die mou gelag het nie. As hulle honger is sal ek seker maak dis vinnig verby. Ek sal net opkyk en die wit van my keel laat grynslag en terg, dit sou vinnig wees, te moer met die vrees. Vandag gaan ek leef. Tot ek sterf.

Argeloos het dit my vyf minute geneem tot by die hoof lapa. Die strandswembad was in die finale fases van voltooing en die martini sitplekke in die swembad bied 'n goeie uitsig oor die ravyn. Kaalgat het ek die hele dag die diereryk uitgedaag, soos 'n kind geswem, gedut, klippe in die bos gegooi, slange in die oe gekyk, olifante geterg en my verwonder aan die ongebondenheid van die natuur.

'n Halwe hand bo die horison het die son gekug en my herinner. Teesinnig het ek my wandelstok geneem en net so meedoenloos doelbewus sonder stop gestap, sonder luister en ruik, verby die skuiling van boom en tak. Vyf minute later was ek tuis.

Verwonderd weer deur die berg wat op die grond langs my le, en nie meer op my skouers nie. Hoe leef ons tog ons lewens daagliks in vrees vir miskien en wat van? Diep ingedagte staan ek toe en trek sirkels in die sand.

Skielik, nou nie eensklaps nie, meer langsamerhand, word ek bewus van 'n vreemde geluid. Niks wat my op hoede plaas nie, maar ook nie 'n geluid wat as gerustellend bestempel kan word nie. Sonder veel bekommernis loop ek deur een van die onvoltooide geboue wat die game drive voertuie sou huisves. Geen deure of vensters nog in nie, so niks wat my kan keer om deur te stap nie. Reg in die pad van die grootste leeuwyfie wat ek nog gesien het. Geelwrede oe genael op my. Miskien twintig meter ver.

Ek vries, my brein skree "hardloop nou!"

My brein maan, "onthou om stil te staan."

My brein skree: "hardloop NOU!"


Terug na inhoudsopgawe


As ‘n Seder Val


© 2012 LYLO de Lange



‘n Vriendin en ek het vroeg in Desember bietjie hondekos ingesamel onder ons Facebook-pelle, om by ‘n behoeftige Afrikaanse gemeenskap buite Pretoria te gaan aflaai. Awesome community die mense van Derdepoort.

So met die aflaaislag neem ek foto’s van die omgewing, die omstandighede en so meer sodat ek dit onder ander instansies en liggame waaraan ons behoort, se aandag kan bring, sodat ons sodoende meer kan doen vir die gemeenskap. Ons ontmoet die mense wat daar bly, spandeer bietjie tyd saam met hulle. Elkeen het maar sy eie storie hoekom hulle nou eintlik in die karavaan skema bly – party het bietjie hardships getref, ander is al afgetree en die pensioen is net nie genoeg om hulle elders te laat bly nie. Wat duidelik is as jy daar opdaag, egter, is dat hierdie gemeenskap nie ‘n klomp bedelaars is nie – hulle is trots, hulle staan saam, hulle help mekaar met die klein bietjie f@k&! wat hulle het.

So ontmoet ons vir oom Willie en tannie Joyce. Hulle is al bykans 60 jaar getroud. Jy kan sien hulle het net oë vir mekaar. Vriendelik, joviaal, melewend, trots op hulle ou karavaantjie. Tannie Joyce gaan wys trots vir ons haar poppe versameling van by die honderd, elkeen mooi aangetrek met kleertjies wat sy self gehekel het. Elkeen het ‘n naam, en elkeen kry ‘n drukkie minstens een keer ‘n maand. Oom Willie wys ons sy groentetuin, ‘n ander half hektaar wat sorgvuldig en noukeurig beplant is met mielies, pampoen, beet, wortels, tamaties, boontjies, aarbeie. Hy verkoop die groentetjies wat hy afhaal om sy karige pensioentjie aan te vul. Maar as die mense nie geld het om hom te betaal vir die ou groentetjie nie, gee hy dit maar sommer weg, seg hy. Want hy kan nie sien dat die groente nou moet staan en vrot word nie. En besides, die Here het hom nog nooit honger gaan laat slaap nie.

So met die instapslag by die afgespande stukkie grond wat hulle hulle ou erfie noem, is daar ‘n hoender. ‘n Verskriklike mooi, groot, wit hoenderhaan. Ek neem aan dis vir die nuwejaarspot, maar tannie Joyce vertel ons gou-gou dat hierdie hans hoender haar trots is en haar kind, hy sal nooit geslag word nie. Die hoender kom selfs nader as jy hom roep. Sy bad hom, hy kyk saam met hulle TV, loop al agter hulle aan waar ook al hulle rondloop, nes ‘n hond.

Ag dit was lekker om by die twee oues uit te kom – die feit dat hulle so positief is ten spyte van die swaar wat hulle het, en al gehad het. Ons het ons vergaap aan Tannie Joyce wat nog die jaar wil ballroom dancing klasse aanbied (net vir so 20, sê sy) want op haar dag was sy immers ‘n kampioen danser gewees.

So met die wegstapslag hardloop oom Willie nog agter ons aan met ‘n Hubbard Squash, net om dankie te sê vir die hondekos – vars uit sy tuin uit. En tannie Joyce skree nog agterna met so ’n kekkellaggie dat ons tog moet probeer om plan te sien om oujaar daar draai te kom maak want hulle gaan groot makietie hou, almal van hulle, die Derdepoorters. Elke gesin gaan R20 inklap en hulle gaan alles wat hulle nodig het daaruit koop. Ander verpligtinge weerhou ons om daar te wees.

En so ry my vriendin en ek weg van Derdepoort af in ons duur Duitse motor – introspektief, dankbaar vir wat ons het, maar vol planne om nog meer te doen. ‘n Vrou het ons vertel hulle het behoefte aan die bediening van die Woord. Hulle soek positiewe rolmodelle vir hulle kinders. Ons besef ons moet ‘n kerk nader – mense kry wat tyd saam met die mense kom spandeer. Tyd is meer werd as geld. Ons wil vir die oom bietjie groentesaad vat, en potjies waarin hy sy plantjies kan maak. Ons wil vlooibandjies of dip vir die honde en katte geskenk kry.

‘n Week later neem my vriendin die potjies en die saad solank vir oom Willie. Hy is tog te dankbaar en die gesels en die lag lê dik in sy karavaan. Ons maak planne van hoe ons nog kan help.

Voor laasweek is oom Willie dood. Sommer so skielik. Hartaanval.

Ek hoor die hoender loop verwese daar rond op die erf. Nes sy ounooi, tannie Joyce – verpletter!



Terug na inhoudsopgawe



Rooigrond van my bestaan…

© 2012 PerskeWang


Net na tien nader ons die Johannesburgse Lughawe. Uit die lug uit lyk alles vaal en verbrand. Hier en daar draai ʼn rokie. Dis koud en dis droog. Niks is meer Desember-groen nie. Die natuur is dood.

Baie het verander.

By doeane kry ek vir Mister Tshabalala, en hy’s vriendelik. Behulpsaam. Laat my deur sonder moeilikheid. Laas toe ek hier deur is, het Lady Macbeth met haar groot bolwange en haar jy-skuld-my-houding my byna tot raserny gedryf; my goed laat verstaan ek’s nie meer welkom nie, en ek moet nét nie dink omdat ek hier gebore is, ek kan maak en breek soos ek wil nie.

Sjoe, maar ek is moeg. Feitlik 48 uur laas geslaap.

Maandagoggend ry ek langs die Portugees se lappe aangeplante groente verby. Koolkoppe so vêr ek kan sien... en daarlangs... nog ʼn stuk wat omgeploeg word.

Skielik tref dit my tussen die oë: rooigrond! Die pragtige rooigrond! Wanneer laas het ek rooigrond gesien? Die reuk van vars, klam rooigrond soos na ʼn somerreënbui.

Dieselfde rooigrond wat ons kinders se klere so liederlik gevlek het. Die rooigrond waarin ek groentetuin gemaak het, natgelei het met water uit die dam, al met die steenvoortjie langs. Rytjie vir rytjie, tot alles deurdrenk was. Pa het vir my ʼn sakkie vol langfos gegee om oor die klein groenteplantjies te gooi. Die blommetjies en vruggies het oorvloedig begin groei. Dan, wanneer die tyd reg was, het ek vars goudgeel wortels en vet klein tamatietjies, murpampoenvingers en stingels beetrooi rabarber, armsvol spinasie kombuis toe gevat.

In dieselfde rooigrond het die trekkers en ploeë, as die reën gekom het, deur die landerye gehardloop. Vir weke aaneen deurnag geploeg en geplant. Die mielies het sommer so twee meter hoog gegroei. Plate, nee lande vol diepdonkerblou van groengeit!

Ons het groenmielies gekook, met sout en botter geëet. Alles uit die rooigrond.

Later het die mielies se hare silwer geword. Die trekkers het stil geword. Kosmos en kakiebos het oor die vlaktes begin groei.

...en ‘n pragtige vars hoop rooigrond langs ‘n oop graf!


Terug na inhoudsopgawe

YS-like kinderstories


© 2012 Ruslan Romanov


Die mooi opgeskotes tussen ons wat in die ou Transvaal skool gegaan het, weet almal van ons Sus en Daan leesboekies. Dit het ons geleer hoe klanke woorde vorm; K-A-T kat, R-A-T rat, G-A-T gat, ens. Daarna het dubbelklanke aai, eeu en oo gevolg en toe kom die eenvoudige sinnetjies soos ..... OOM ROOK BOOM. Dit is ‘n pragtige sin om die oo klank te oefen maar deesdae sal die polisie gou by die deur wees om die oom te spreek. As hy boom rook kan hy seker steel en nog ‘n pedofiel ook wees. Ja-nee oom, jou @a@ is geboek!

Om kinders aan die lees te kry was daar ‘n prentjie en dàn die storie wat daarmee saamgaan. Daar is ‘n man wat lyk of hy nou net uit die kerk uit kom met ‘n pak klere aan, das, onderbaadjie “and all” en hy spit in die tuin. DOING!!!! Dit druis teen alles in wat ek op 6 jarige ouderdom al geweet het. Hoeveel keer is ek nie met ‘n pak slae gedreig as ek nie my mooi-moois gaan uittrek het voordat ek buite gaan speel het nie? Niemand, maar niemand sal met ‘n pak klere aan in die tuin werk nie. My pa het in die tuin laat werk en nie self die vurk in die hand gehad nie. As ek nou daaraan dink maak dit tog sin, daai oom het seker sy boom daar tussen die tamaties gekweek.

En dan die storie wat saam met die prentjie gaan: “Oom Jan werk in die tuin. Kyk of jy die groente kan sien.” Man, te moer met die groente, as ma nou by daai deur uitkom gaan hy skyt. Ek is so senuweeagtig vir hom met die pak klere in die tuin dat ek tot vandag toe nie weet wat in die res van die les gebeur het nie. Ek was so sensitief, ma het altyd vir juffrou gesê, “klap net enige ander kind in die klas, hy sal genoeg skrik”

Daar was mos ook nog die versies, ek onthou so goed die een wat ons die windrigtings moes leer, so ‘n lang een van Nukkebol Noorde Wind wat die koue bring en baie ongoed is. “Liewe Kind Suide Wind,” en juffrou se stemtoon verander, “dis die lekker warm wind wat mooi weer bring” en almal jubel. Eers baie later uitgevind dat al die goed net so uit Europa gekom het en toe in Afrikaans vertaal is. Suidelike halfrond – suide wind bring slegte weer. Noorde wind is goed. In Europa dra mense pakke klere met onderbaajies vir die koue. Ek is seker Juffrou, RIP, weet dit tot vandag toe nog nie en wat het daai omies met die dik brille gedink toe hulle daai goed vertaal het?

Jakkals en Wolf, Hansie en Grietjie en Rooikappie sprokies het gevolg. Elke een so ‘n mooi storie maar ek het nooit die sede lessie waarom dit geskryf was, verstaan nie. Rooikappie, dogtertjies moet nie alleen rondloop nie. Daar is nog steeds wolwe daar buite wat hulle gaan eet. Stiefmas haat nog steeds die kinders uit die vorige huwelik. Wonder of dit net ek was wat dit nie kon verstaan nie.

Narnia stories! Dis nou meer gevorderd, hoërgraad sou ek sê. Wat my bybly is die stukkie ys wat in Gerda se oog gesteek het en haar hart laat vries het, en sy vir Kyle vergeet het. En shame, Gerda moes die ysvloere in die yspaleis skrop vir die ysheks, dis nou ‘n @a@ job daai!

Nou loop ek hier in die sneeu met ‘n heilige vrees vir daai ys in die oog, meestal met die oë amper toe en dit op gladde ys! Ek skrop nie vloere nie, maar …

Ek soek ‘n verhoging EN dangerpay!



Terug na inhoudsopgawe


Hasepad


© 2012 Charl Bezuidenhout



Die ritmiese tik, tik, tik van die reën op die sinkdak het my aan daardie dag herinner.

Dit was ’n warm somers dag toe sy finaal in die vêrte ingevaar het en ons almal hoog-en-droog gelos het. “Vir ons eie verlossing,” het sy in die brief geskryf.

Sien sy was blykbaar mal. Nie net enige mal nie. So mal dat nie eens die hase hulle met haar wil assosieer nie.

“Tannie, waar is jy?!” roep-soek ek terwyl die pap op die stoof verbrand.

Die teëls is nog nat en die mop lê strategies agter ’n draai versteek.

“Tannie, waar ...”

Dis dan wat ek haar langs haar bed, knielend vind langs haar bed met ’n notaboek op haar skoot. Besig met een of ander inskrywing.

“Tannie?”

Shhh ... ek kan hom nie hoor nie!”

“Wie? Wat?”

“Ek sê sharrap!”

Verward dwaal ek terug kombuis toe om die verbrande-brousel pap te probeer red.

Sy sal ure daarna terug in die kombuis instap en na my verbrande hande staar.

“Wat het jy nou al weer aangevang?”

“Die pap het ...”

“Aag nee! Nie al weer nie! Het ek jou dan nie gesê om pap op jou eie te probeer maak nie?!”

“Maar ek het nie ...”

“Wie dan? Koster was heeltyd saam met my in die kamer en die ander kinders is al by die skool.”

Ek kon haar nooit oorreed dat dit sy was dat my altyd begin help het om pap te maak nie. Dat sy altyd my alleen los en na ’n hoek dwaal en in stilte sit en skryf. In stilte tyd saam met Koster spandeer en die pap laat verbrand. Ek wat moet verbrand na my pa toe hardloop, my pa wat saggies salf insmeer. My pa wat keer dat sy nie my slaan omdat ek ‘stout’ was nie.

*

Dit reën al weer mal hase saam met die honde en katte vandag. Tannie is nêrens te vinde nie. Pa sê dat sy daarvan hou om tyd alleen te spandeer, tyd om haarself te vind. Hy het my al mooi gevra om myself besig te hou en eerder uit haar pad te bly. Maar wat weet ’n vier-jarige blou-oog poppie van verantwoordelikheid?

Ek't orals gesoek en darem nie gevra vir pap nie – het sommer ’n broodjie self gesmeer met hopeloos te veel botter en ’n klomp kaas.

In haar kamer was alles deurmekaar. Pa se klere was in ’n kunstige kakofonie georganiseer en die matras het langs die kopstuk gelê.

Dié aand is pa verskriklik hartseer, maar antwoord al my vrae met: “Poppie, alles sal môre beter wees.”

*

Môre gekom en gegaan. ’n Paar jaar ook, maar die Tannie was nog steeds vreemd. Sy het ’n paar keer al terug gekom en weer gegaan. Pa het al stiller geword en het my nooit meer sy ‘Poppie’ genoem nie. Ek kon sien hy het baie seer gekry.

*

Vandag is die eerste dag van graad 1 en dis vrek warm. Tannie het al weer die hasepad gevat, maar daar het ’n briefie op my en my pa se bed gelê.

“Jou handjies sal nooit weer verbrand nie, Pop” sê my pa terwyl ons skool toe ry.

n Donderstorm breek los op pad na my ‘verlossing’ toe.


Terug na inhoudsopgawe

Om te weet

© 2012 Ellen Margaret Hancke


Daar is drie van hulle. Wit panele. Seker so’n bietjie meer as ’n meter breed. Die lengte, as ek moet raai na gelang van die dubbelbed se grootte, is seker amper vyf meter.

Die wit uitspansel bokant my bed, die oorbekende. Twee dakliggies, nie presies in die middel van die vertrek nie. Dit het my al so dikwels in die verlede gepla. Die feit dat mense dinge nie behoorlik sentreer nie.

Ek ken hierdie wit plafon so goed. Van hom het ek al ‘n Sistynse Kapel gemaak. Beskilder met engele (sulke lekker brooddeeg vettes) in die allermooiste kleureprag. Gerubs, pilare, lelies en met gebrandskilderde vensters so neffens die daklig.

Dan weer was dit ‘n malse groen woud waar eekhorings, uile, neushoringvoëls saam met bere en pom-pomstert hasies baljakker... en ja daar was altyd water en wolke ook...

Een aand nadat ek met “Sterre en Planete” op die radio aan die slaap geraak het, het ek ‘n sielsalige droom gehad. My plafon was ‘n blou koepel vol hemelliggame. Die son en maan was abei daar. Die mees betowerende sonskyn het links van agter my skoenekas gekom vanuit die hoek waar die oog van die huisalarm sit. Die strale het in ‘n goue kavalkade die kamer binnegestroom.

Aan die regterkant, by die badkamer-ingang, het die maan van agter ‘n boepens wolkie geloer. Die maan kon wraggies sing, maar ek kon glad nie die vreemde taal verstaan nie. Iets soos Mandaryns, maar afgewissel met die roepgeluid van dolfyne...

Die volgende dag het ek lank lê en mymer oor daardie droom. Veral die wolkie het my gefassineer. Dit was asof ek die wolkie geken het. Dit was ‘n kleintyd ding, die wolkstorie.

Vir dae lank kon ek op my rug op die gras lê en na wolke staar. Natuurlik kon ek die mees fabelagtige figure en dinge in daardie wolke raaksien. My boeta het eendag gesê ek is “cumulus-bedot.” Ek het geweet dis sommer net ‘n spoggerige woord wat hy in die skool geleer het, waarmee hy my wou laat voel asof ek die pes het... Wat het hy nou in elk geval geweet van my wensdrome?

Ja, so het ek baie lank gewag vir die groot wonderwerk. Ek het geglo dit sou gebeur. Ek het geweet Hy hoor elke woord van my gebed. Ek wou so graag gehad het hy moet vir my wys dat Hy daar bo is. “Here, U hoef nie eens U gesig vir my te wys nie!”

Ja, ek wou net gehad het Hy moes sy pinkietjie deur die wolke steek om vir my te wys dat hy rêrig is...dit was so ‘n klein ou gunsie...

Ek kyk na die plafon in my kamer. Tabula Rasa. Skoon, onbevlek en onbeverf deur enige drome.

Net ‘n wit leegheid.

Vader, asseblief net een keer... Ek kry swaar. Ek weet nie meer wat is feit en wat is fabel nie. Ek wil nie meer met dagdrome en nagdrome my plafon beskilder nie.”

Pappa, ek wag op U, al meer as ‘n halfeeu lank.. ek belowe ek sal dan nooit weer vra nie... ek MOET weet, asseblief net hierdie een keer... steek asseblief U pinkietjie deur die plafon vir my...”


Terug na inhoudsopgawe


Bedelaarswoorde vir die dors

© 2012 Ronell Marais


William. Gewoon net William. William van die Groot Karoo wat bedel in die stofstrate van Victoria-Wes. William ( met die slim meisiekind genaamd Jessica) wat woon in die begraafplaas by gebrek aan 'n beter heenkome.

Op 'n snikhete somersdag het ons paaie gekruis. Jy wou geld hê en ek, dit wat geld nie kan koop nie: 'n Storie oor die lewe.

Jy't bakhand nader gestaan en ek was blatant nuuskierig. Storievraat.

Wat laat jou tick William? Hoe lyk jou lewe? Vertel, vertel...

Onner 'n peperboom het ons sonder seremonie geplak en ek was die leerling en jy die meester. Meester van jou lewe wat eens op 'n tyd 'n goeie lewe was. Die dae toe jou pa nog vir die Afdelingsraad gewerk het en daar nog inkomste was. Voor sy ongeluk.

Daar's iets hartseer aan 'n peperboom William, glo my. Veral as jy stil in die oë van 'n bedelmens kyk wat stofpad ken, wat al kronkelpaaie en afdraaipaaie geloop het. Iemand, William, wat menswaardig vir jou 'n storie probeer vertel van swaarkry en sukkel en drome wat maar net nagmerries van oorlewing is.

Bedelaars het ook 'n siel. Diep agter jou rosyntjie-oë en kreukelgesig was 'n siel William. Ek het dit daardie dag gesien, so skramsweg gesien. Die skamele R20 bedelgeld wat jy uit my het, was 'n bargain William...

Iets het my vandag weer aan jou laat dink. Wonner wat dit nou weer was? O ja, jou woorde. "Moenie my verstoot nie..."

Groot woorde daai. Bedelaarswoorde. Met daai woorde manipuleer jy William, manipuleer jy 'n anner ou se siel om dalk net maar jou dors te les. . . Maar die groter dors, William, laat hom nie so maklik les nie.


(Hierdie is 'n 'n ware verhaal. Ek het dit ook herskryf as gedig, genaamd William.)


Terug na inhoudsopgawe


Fiat Justitia


© 2012 Estelle Odendaal Duvenhage


Sersant Kylie Cloete druk haar hande geskok op haar mond om die gil te keer wat uit haar binneste opwel toe sy langs die liggaam van nog ʼn vermoorde straatkind kniel. Behalwe vir sy lewelose bruin oë wat haar beskuldigend aankyk, asof hy vra, “waar was jy toe ek jou nodig gehad het?’’ is sy gesig ʼn vormlose, bebloede massa.

Kylie kom orent en bal haar buiste van woede. Sy ken daardie ogies. “Ai, ou Makou, jy het nooit ‘n regverdige kans in die lewe gehad nie.”

Sy draai na die Konstabel langs haar. “Smith!, fynkam elke sentimer om die toneel, ek wil jou verslag voor môreoggend op my tafel hê” beveel sy kortaf. Hulle werk al ‘n geruime tyd saam in die Spesiale Taakmag teen kindermolestering en seksuele misdadade. Sy weet sy kan op hom staatmaak om ‘n deeglike ondersoek te doen.

Oppad terug na die polisiekantoor onthou Kylie haar eerste kennismaking met Braampie en Kind.

Sy hoor hulle voordat sy hul sien. Die een hoes en vee sommer die slym met sy mou af.

Wat is jou naam?” en sy beduie na die kortetjie.

Die kort vettetjie slaan sy vuil handjies op sy bors. ”Ek is Braampie en hy is Kind” en stamp kordaat teen die maatjie langs hom.

Gemaak ernstig draai Kylie na Kind, “ as jy weer nies, draai jou kop weg van my af, ek wil nie makoutjies koop nie” .

“Watse makoue?” lag Braampie.

Sy verduidelik vir hulle dat sy op ‘n plaas naby Upinton groot geword het en dat dit ‘n gesegde is wat jy gebruik wanneer jy vir iemand sê dat jy nie hulle verkoue wil hê nie.

“Het jy nie ‘n regte naam nie?” vra sy simpatiek vir Kind.

“Ek is nie gedoop nie, toe bly ek maar net Kind,”antwoord hy verleë.

Jou naam is nou Makou," Braampie vou dubbel soos hy lag.

Kylie onderdruk ‘n glimlag. “Aangraamename kennis Makou” en skud ewe plegtig sy taai hand.

Na die grappige herinnering is Kylie opnuut woedend.“

Terug by die Polisiestasie, ruk die wind byna die kar se deur uit haar hande. “Vanaand waai die wind weer sewe soorte dinges uit ‘n mens uit”en sy beur teen die Suidooster.

“Sarge ... Sarge,” Kylie draai vinnig om en kyk verbaas na ‘n bedremmelde Braampie wat agter ‘n motor uitloer.

“Braampie, kom uit agter die motor, waarom is jy nog nie in jou skuiling nie?, jou lippe is blou van die koue”, raas sy met hom en dan sien sy die tranespore op sy vuil wangetjies.

Kylie sug toe sy Braampie se koue handjie vat. “Kom kleintjie, kom ons gaan na my kantoor toe.”

In haar kantoor maak sy vir Braampie gemaklik voor die verwarmer. Kylie hurk langs hom en streel sy handjies. “Braampie, wil jy vir my ietsie verte?l” vra sy saggies.

Braamie se lyfie ruk soos hy snik, trane stroom oor sy skurwe wange. “Hulle het hom gefoejangghaap Sarge, drie van hulle. Makou het geskop en geskreeu maar hulle het net aangehou en aangehou. Toe hulle klaar is, het hulle hom geskop en geslaan. Ek’t my ore toegedruk, maar ek kon alles hoor. Ek het Makou nie gehelp nie Sarge, ek was bang en toe kruip ek weg.”

Kylie klem haar kake opmekaar van woede. Die wete dat drie mans hulle soos diere, seksueel aan ʼn weerlose kind vergryp en tot die dood toe verinneweer het, skree ten hemele om vergelding!

Braampie, dit is nie jou skuld nie”, troos Kylie die hartseer seuntjie “maar jy kan my help om hulle te vang. Vertel my alles wat jy weet.”

Met warm Milo en baie geduld kry Kylie genoeg inligting uit Braampie om haar soektog na die moontlike skuldiges te begin. Sy vermoed lankal dat bendes van Mannenberg verantwoordelik is vir die Middestad se kinderprostitusie en die verkoop van straatkinders

Sy loop met vasberade treë na die deur en maak dit vinning oop,“Bester, sorg dat Braampie na ‘n plek van bewaring geneem word” gee sy vinnig opdrag aan een van haar spanlede.

Sy gryp haar Polo se sleutels en hardloop. Met skreeuende bande trek sy weg.

By die hawe se ingang skakel sy die motor se ligte af en parkeer buite sig. Sy sluip geruisloos tot waar die bote geanker is. Die mis waai nat teen haar gesig en dit is moeilik om die name op die skommelende bote te lees. Volgens Braampie is die boot waar die kinders versteek word, die Orion.

Kylie kraploop en beur teen die geweldige krag van die Kaapse Dokter, opsoek na die gewraakte boot.
Deur die misvlae verskyn die Orion soos ‘n spookskip voor haar.

Haar hart klop in haar keel toe sy haar selfoon uithaal en kaptein Wiese se direkte nommer skakel. In ‘n fluisterstem lig sy haar hoof in waar sy haar bevind. “Kaptein ek het ‘n sterk vermoede dat die moordenaars van die straatkind wat vannag vermoor is, aan boord die Orion is.”

Sersant Cloete, jy wag vir back-up, onder geen omstandighede gaan jy alleen aan boord nie. Dit is nie ʼn versoek nie maar ‘n bevel,” bulder Kaptein Wiese en beëindig die gesprek.

Die wind byt soos ‘n oorlamse keffertjie aan Kylie, want in haar haas het sy vergeet om haar jas aan te trek.

Te hel met dit, my tande klap teenmekaar van die koue” sy trek haar skouers op gaan aanboord. Sy beweeg stadig tot by ‘n toe deur.

Versigtig maak sy dit oop. Die vrot reuk van stilstaande water slaan haar asem weg. Naarheid stu in haar op, sy sluk die braaksel terug wat in haar keel opstoot.

Die boot wieg gevaarlik heen en weer. Kylie druk teen die kant van die gang om haar balans te hou.
Tooing, tooing, tooingggg, lui ʼn skeepsklok in die verte.

Sy begin hiperventileer, sweetdruppels pêrel op haar yskoue gesig. Geruisloos sak sy af tot op die vloer.


Continue reading this ebook at Smashwords.
Download this book for your ebook reader.
(Pages 1-34 show above.)